HESSEQUA NUUS - Met die jaarlikse viering van Wêreldhardopleesdag (Read Aloud Day) op 1 Februarie het Hessequa-biblioteke die geleentheid gehad om die bewustheid van hardop lees vir kinders aan te wakker.
Verskeie aktiwiteite is deur biblioteekpersoneel by skole aangebied om sodoende die waarde daarvan te bevorder en om volwassenes aan te moedig om vir kinders voor te lees.
Hardop lees vir kinders is een van die belangrikste dinge wat ouers of onderwysers vir kinders kan doen.
Dit kweek 'n liefde vir stories en boeke by selfs die kleinste kind.
Van die voordele is dat dit kinders onder meer leer om waarde aan boeke te heg, om hulle woordeskat en taalvermoë te ontwikkel en 'n stewige taalfondasie te bou.
Hardop lees ontwikkel by kinders 'n ryk verbeelding, maak hulle nuuskierig en motiveer hulle om self te wil lees.
Volanté Hoogbaard, Lisoméne Hendricks en Nicolynne Geldenhuys by 'n gr. R-klas in De Waalville Primêr op Heidelberg.
Kinders wat goed lees, vind hul skoolwerk interessanter en leer ook makliker.
Hardop lees van 'n baie vroeë stadium in 'n kind se lewe is dus van onskatbare waarde, aangesien baie kinders deesdae nie met begrip kan lees nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'