HEIDELBERG NUUS - Alexia Howe, een van die gassprekers tydens 'n funksie op Vrouedag, Woensdag 9 Augustus, het oor haar pad met kanker en ander uitdagings rondom haar gesondheid getuig.
Volgens haar onderskat vrouens hoe sterk hulle werklik is. "As julle wil weet hoe om sterk te wees, moenie daaraan dink nie, doen dit net, want as jy dink, dink jy aan alles wat skeef kan loop."
Die funksie is deur die Demokratiese Alliansie (DA), wyke 4, 5 en 9 by die stadsaal aangebied. Gaste kon heerlik om die kleurvolle tafels kuier en 'n smaaklike vingerete geniet. Verskeie items is deur plaaslike kunstenaars opgevoer.
Sprekers het vroue met hul getuienisse bemoedig. Charlotte Cellie het haar getuienis gedeel rondom uitdagings om werk te kry.
Vandag is sy direkteur van haar eie onderneming. Haar grootste behoefte was om haar ouers finansieel in die huishouding by te staan. Dit het haar aangespoor om groter te droom, tot die regte geleentheid haar pad gekruis het.
"Iets waarvoor ek nie gevra het nie, het my lewe kom verander." Sy het 'n geleentheid gekry om by die toerisme-inligtingskantoor te werk. Sy het egter geen toerisme agtergrond gehad nie, maar met harde werk en baie navorsing het sy die beste van die geleentheid gebruik gemaak en voltooi haar studies in toerisme hierdie jaar.
Nadia van Dyk, vrywillige werker by die traumakamer, het vertel hoe vrouens slagoffers van geweld is en nie weet hoe om uit situasies te kom nie.
"Wees wie jy wil wees, staan op en maak 'n saak teen mishandeling as jy 'n slagoffer is."
Sy moedig die gemeenskap aan om hulle oë oop te hou en mishandeling te rapporteer. "Ons is 'n familie. Moenie 'n blinde oog hê vir dit wat om jou aangaan nie."
Felida Lotz en Nathan Ruiters sing in harmonie saam met die pragtige klavierspel van Maurique Vollenhoven. Foto's: Aletta Sutherland, korrespondent.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'