STILBAAI NUUS - Die plaaslike polisie het wenke saamgestel om vakansiegangers, besoekers en natuurlik inwoners se veiligheid te probeer verseker.
Persoonlike veiligheid tuis
• Moenie vensters sonder diefwering en waardeur maklike toegang verkry kan word, laat oopstaan nie.
• Moenie deure laat oopstaan wat nie onder toesig is nie.
• Moenie gesluite deure oopmaak as jy nie weet wie geklop of die klokkie gedruk het nie. Vra eers en indien onbekend, hou liefs die deur toe.
• Wees bewus van 'n veilig vertrek in die tuiste om as skuilplek te dien in 'n noodgeval.
• Moenie waardevolle items laat rondlê nie. Indien moontlik bêre dit in 'n kluis.
• Verwys bedelaars na Badisa in Pastoriestraat 15 eerder as om kos of klere vir hulle te gee. Skenk dit liefs aan Badisa.
• Hou rekord van identiteitsnommers van enige werkers op die perseel.
• Wees bedag op bedrog via elektroniese media.
• Wees vertroud met die ligging van die aangewese vergaderplek in 'n noodsituasie. Kontak die buurtwagkoördineerder vir besonderhede.
• Hou 'n brandblusser binne bereik van elektriese of gasstowe.
• 'n Eerste hulpkissie is altyd 'n aanwins.
• Oorweeg installasie van diefwering op kwesbare vensters, asook veiligheidshekke by hoofingange na die tuiste, asook alarmstelsel.
• Hou onbewaakte motorhuisdeure toe en gesluit.
• Hou motordeure en vensters toe en gesluit wanneer dit geparkeer staan. Moenie waardevolle items in die motor los nie.
• Moenie waardevolle items op die werf laat rondlê nie.
Rapporteer alle verdagte persone, voertuie, aktiwiteite en pogings tot misdaad direk aan die polisie.
Wees veilig in die openbaar
• Moenie alleen na donker in afgesonderde plekke loop nie.
• Hou altyd jou beursie buite sig.
• Wees bedag op jou omgewing wanneer jy kontant by 'n kitsbank deponeer of trek.
• Moenie met groot bedrae kontant op jou loop nie.
• Hou 'n selfoon by jou in geval van nood, maar hou dit buite sig.
• Indien jy op 'n staproete gaan stap, lig iemand in wat jou roete gaan wees en wanneer jy terug behoort te wees. Neem genoeg water en beskerming teen die son saam.
• Swem slegs op plekke waar lewensredders diens doen en moet verkieslik nie alleen gaan nie.
• Indien jy op die see of rivier gaan vaar, maar seker die weer is gunstig, laat weet die NSRI wat jou roete gaan wees en wanneer om jou terug te verwag.
• Moenie waardevolle items onbewaak op die strand, rivieroewer of ander openbare plekke laat lê nie.
• Moenie vuurwerke op ongemagtigde plekke gebruik nie en moenie dit in winderige toestande doen nie.
Rapporteer alle verdagte persone, voertuie, aktiwiteite en pogings tot misdaad direk aan die polisie by 10111 of 028 754 6100.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'