HESSEQUA NUUS - Boere word gemaan om gedurende die feesseisoen sekerheid om plase op te skerp en waaksaam te wees.
"Ons wil ons lede tot kalmte te maan en te vra om nie onverantwoordelik op te tree te midde van die voortgesette voorkoms van plaasaanvalle en misdaad nie," het Agri SA en TLU SA in 'n gesamentlike boodskap gesê.
Die twee organisasies het vanjaar 53 moorde teenoor 54 in 2018, en 383 plaasaanvalle teenoor 394 in 2018 aangeteken. "Dis 'n aanduiding van die misdaadrisiko waaraan boere en plaaswerkers daagliks blootgestel is," lui die verklaring.
Dié getalle kan nog toeneem voor Nuwejaarsdag. "Die feestyd bied geleenthede aan misdadigers om op niksvermoedende mense toe te slaan. Dit is noodsaaklik dat die boerderygemeenskap hul paraatheid opskerp en voortdurend waaksaam wees."
Hulle het ook 'n dringende beroep op die polisie gedoen om landbougemeenskappe te beskerm deur verhoogde sigbaarheid en voorkomingsaksies.
Landbougemeenskappe moet self ook hul eie veiligheid verbeter deur basiese maatreëls toe te pas. Al voorkom dié maatreëls nie noodwendig misdaad of 'n aanval nie, kan dit inwoners geleentheid gee om alarm te maak.
Beveilig jou werf en plaas
• Beheer toegang tot die plaas en wees te alle tye bewus van wie daar is en wat aangaan;
• Vermy direkte verkoop van produkte vanaf die plaas, want misdadigers kan onder valse voorwendsels toegang verkry;
• Wees bedag daarop dat veediefstal in dié tyd mag toeneem - tel jou vee gereeld en wees bewus van waar die vee wei;
• Maak seker waardevolle artikels soos vuurwapens is veilig geberg wanneer jy met vakansie gaan;
• Maak seker landboutoerusting en voertuie is behoorlik agter slot en grendel; probeer diefstal van diesel voorkom;
• Maak besoekers deel van jou veiligheidsbeplanning sodat hulle weet hoe om in 'n noodsituasie op te tree.
Kommunikeer met owerhede en instansies
• Raak betrokke by plaaslike georganiseerde landboustrukture en plaaswagte;
• Maak seker alternatiewe kommunikasiemiddele soos radio's is beskikbaar in geval van 'n krag- of selfoononderbreking;
• Maak seker van die beskikbaarheid van regsverteenwoordiging en watter staatsaanklaers beskikbaar is;
• Meld alle verdagte optrede en persone by die naaste polisiekantoor aan en handhaaf goeie kommunikasie met die wetstoepassers.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'