HESSEQUA NUUS - Hierdie tyd van die jaar neem misdaad gewoonlik toe omdat misdadigers veral vakansiegangers as maklike teikens sien.
Diewe is boonop slu en bedink allerlei skelm maniere en onwettige skemas om mense van hul swaarverdiende geld te beroof.
'n Nuwe slenter wat die rondte doen, is deur middel van 'n SMS wat aan jou gestuur word van 'n nommer soortgelyk aan dié wat die bank aan jou stuur vir kennisgewings.
Die SMS sal 'n probleem in jou rekening aandui en 'n 'konsultant' sal jou kontak.
Hy of sy sal al jou besonderhede en jou rekeningnommer bevestig en dan sal hulle jou vra watter soort telefoon jy gebruik.
Die bedrieërs sal met jou selfoonnommer die diensverskaffer kontak en 'n SIM-omruiling doen.
Hulle sal dan 'n eenmalige pin en/of 'n willekeurige verifikasienommer van jou bank kan ontvang en toegang tot bankrekeninge hê.
Teen die tyd dat jy besef dat jou selfoonnommer nie werk nie, sal jou geld uit jou rekening wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'