HESSEQUA NUUS - Verskeie voorvalle van virale breinvliesontsteking het elders in die Tuinroete voorgekom, maar Hessequa het dit tot dusver grotendeels vrygespring.
“Net twee voorvalle van die siekte het sedert 1 Februarie op Albertinia voorgekom,” sê Nadia Ferreira, woordvoerder vir die Wes-Kaap departement van gesondheid.
Suid-Kaap Forum weet van nog ’n moontlike voorval op ’n plaas buite Albertinia, maar meer toetse moet gedoen word om dit te bevestig.
Volgens Ferreira is 19 vermoedelike voorvalle sedert 1 Februarie by Mosselbaai-hospitaal en 71 pasiënte by George-hospitaal aangemeld. Elf hiervan is bevestig en die meeste van hulle was kinders jonger as 14. By Knysna-hospitaal is 66 gevalle behandel. By nie een van hierdie pasiënte is ernstige nagevolge ervaar nie.
Breinvliesontsteking is ’n weefselontsteking in die brein en rugmurg wat deur ’n virus of bakterie veroorsaak word.
Die siekte wat nou in omloop is, is die minder ernstige virale tipe en die pasiënt genees gewoonlik heeltemal ná behandeling.
Die virus word onder meer deur muskiete of rioolbesmette water oorgedra.
Simptome
Die simptome stem dikwels ooreen met dié van kwaai verkoue of griep, hoofpyn, naarheid en ’n hoë koors. Sensitiwiteit vir lig en ’n stywe nek kan ook voorkom, asook diarree, lomerigheid, ’n donkerrooi uitslag oor die lyf, disoriëntasie en in ernstige gevalle selfs bewusteloosheid.
Die publiek word aangeraai om nietemin voorsorgmaatreëls te tref om besmetting te vermy. Nie alle aangetaste mense toon die simptome nie, maar gaan vroegtydig ’n dokter sien as jy weet jy was in kontak met iemand wat die siekte het. Hoe vroeër dit gediagnoseer word, hoe beter is die kans dat die pasiënt heeltemal herstel.
'Ons bring jou die nuuste Hessequa nuus'