RIVERSDAL NUUS - Sondag 16 Junie is Vadersdag en Suid-Kaap Forum het met pa's gesels oor hoe hulle vaderskap beskou.
Pieter Toua sê dit is die grootste voorreg ooit om 'n pa te wees - deur die moeilike en lekker tye.
"Vir 'n pa word die baba mos nie geleidelik infaseer nie – hy of sy is net skielik daar. Wanneer 'n mens vir die eerste keer daardie klein bondeltjie vashou, kom jy tot die absolute besef van verantwoordelikheid vir hierdie klein onbeholpe wesentjie.
"Op Vadersdag gaan my kinders ongelukkig ver van my af wees. Die ergste van alles is wanneer hulle uit die huis gaan en jy besef hulle het hul eie lewe en pa is nie meer die belangrikste mens vir hulle nie."
Die lekkerste vir hom is die kinders se avontuurlus vir die lewe. "Hulle beskou elke dag as 'n uitdaging - hulle wil nog ervaar en uitdaag en hulle kom na vore met nuwe vars idees. Ja, hulle maak foute - maar iemand wat nie foute maak nie, het nie gelewe nie."
Naas Verwey meen dit is 'n voorreg om 'n pa vir sy kinders te wees en vir hulle te sorg. "Ons is 'n hegte gesin en op Vadersdag bederf hulle my en ons eet almal lekker saam."
Naas Verwey: "Ons is 'n hegte gesin."
Vir Louis Wessels is dit ook 'n voorreg om pa van 'n seun en dogter te wees. "Dis 'n plesier om saam met die kinders te kuier. Ek is nou al 'n oupa, en dit maak die voorreg en die plesier net meer."
Louis Wessels: "Dis 'n plesier om saam met die kinders te kuier."
Francois Haai meen dis 'n gawe van God om twee seuns groot te maak. "Dis 'n groot plesier, en ek wil vir alle vaders daar buite sê: geniet elke oomblik, want as jy hom nie meer het nie, is dit 'n stukkende gevoel." Maar dis nie maklik om vandag 'n kind groot te maak nie. "Dis hard met vandag se ekonomie. Jy moet elke sent omdraai om jou kind groot te kry." Is dit vandag makliker as 25 jaar gelede? "Dit hang van die ouer af - die kind kan nie self vir sy toekoms beplan nie, dis jou verantwoordelikheid as ouer."
Francois Haai: "Jy moet elke sent omdraai om jou kind groot te kry."
Petrus Geldenhuys het vier kinders grootgemaak. "Dit was 'n plesier om te sien hoe hulle grootword en floreer. Dissipline het 'n groot rol in ons huishouding gespeel, want kinders moet opsien na hul ouers. Hulle moet besef hul ouers is die beste om hulle op die pad vorentoe te lei."
Petrus Geldenhuys: "Dissipline het 'n groot rol in ons huis gespeel."
Lees 'n vorige artikel hier: Wat beteken vaderskap vir jou?
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'