Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Middeljarige egpaar van Swellendam en 'n 48-jarige man van Knysna het Donderdagaand, 8 April wonderbaarlik die dood vrygespring toe die voertuie waarin hulle was teen mekaar gebots het.
Die ongeluk het ongeveer 20:00 op die N2 by die Slangrivier/Suurbraak-afdraai gebeur.
Die bestuurder van die Hilux-bakkie wat na Knysna onderweg was met 'n vrag naartjies en tamaties, is Donderdagaand uit die hospitaal op Riversdal ontslaan na behandeling van 'n ligte kopbesering. Hy was alleen in die voertuig.
Fotogalery: N2/Slangrivier-kruising laataand botsing
Die bestuurder van die Isuzu-bakkie, sy vrou en twee werkers was uit Suurbraak op pad terug na Swellendam toe hulle op die N2 wou indraai en deur die Hilux-bakkie aan die bestuurderskant getref word. Die impak van die botsing het die Isuzu in die sloot langs die N2 laat beland. Die bestuurder is na 'n lang gesukkel deur reddingspersoneel op die toneel uit die kajuit bevry. Hy en sy vrou is na 'n privaat hospitaal op Mosselbaai oorgeplaas nadat hulle eers op Riversdal behandel is.
Die twee werkers is ook na Riversdal-hospitaal vervoer, waarna die een na George vir verdere behandeling oorgeplaas is. Die ander werker is na behandeling vir ligte beserings uit die hospitaal ontslaan.
Volgens die polisie word 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.
Kyk 'n video hieronder:
Die Isuzu het in die sloot beland.
Die Hilux-bakkie is ‘n totale wrak.
Die naartjies het oor die pad gestrooi gelê.
Vorige artikel: Opvolg: Botsing op N2/Sangrivier-kruising
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'