ALBERTINIA NUUS - Die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders is Saterdag, 28 November op Albertinia in die vorm van 'n high tea geloods.
Die spoggeleentheid in Albertinia-gholfklubsaal is in samewerking met Smiling Ducks Educare-kleuterskool en Albertinia-buurtwag gereël.
Die hoofspreker, advokaat Leslie Morris van die departement van gemeenskapsveiligheid het gesê dat die Court Watching Brief (CWB)-eenheid ondoeltreffendheid in verband met 'n ondersoek of verhoor identifiseer.
Waar sake weens sistemiese mislukkings van die hofrol geskrap word, word dit aan die provinsiale kommissaris gerapporteer om te verseker dat regstellende stappe gedoen word om hierdie sake af te handel, of waar nodig tugstappe te neem.
Morris het baie klem op die regte van vroue gelê om veilig te wees. "Net omdat 'n vrou saam met 'n man gaan uiteet, 'n drankie drink of haar kleredrag vroulik is, beteken dit nie sy gee toestemming vir seksuele misbruik nie," het hy gesê.
Morris het veral skerp verwys na waar die vrou 'n tweede keer verkrag en aangerand word wanneer sy 'n verkragting- of aanradingsaak gaan aanmeld, asook die manier waarop sommige lede van die polisie met sulke slagoffers praat en handel.
Mary Julies van Albertinia-traumakamer het oor die belangrikheid van beraders en hul werksaamhede gepraat. Omdat daar altyd 'n tekort is, het sy die vroue genooi om haar te kontak indien hulle daarin belangstel om as 'n berader opgelei te word.
Verskeie vroue het hul verhale waar hulle slagoffers van geweld was gedeel, maar ook genoem dat hulle tot 'n punt gekom het waar hulle kon sê: Genoeg is genoeg. Die kernboodskap daarvan is dat jy as persoon self daardie besluit moet maak en hulp gaan kry.
'n Stemboodskap van die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings en behuising, Tertuis Simmers is gespeel waarin hy noem dat die 16 dae van aktivisme 'n 360-dae aktivistiese benadering moet word. Hy het beklemtoon dat ons as 'n gemeenskap saam moet staan en hierdie element van geslagsgeweld verwyder.
Vir navrae en aanmelding van geslagsgeweld, inligting rakende Albertinia-buurtwag en die beraderkursus kan Mary Julies by Albertinia-polisie gekontak word (028 735 8040).
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'