Gallery Update Video
MELKHOUTFONTEIN NUUS EN VIDEO - "Wat hier begin, is die toekoms van die wêreld en nie net van Melkhoutfontein nie. Dis vrede."
Dit was een van die wyshede wat Maurice Page, bekende televisie-akteur en oud-inwoner van Heidelberg kwytgeraak het as gasspreker tydens die jaarlikse Vredestafel in dié dorp, wat Donderdag 29 November vir die vierde agtereenvolgende jaar aangebied is.
Hy het die meer as duisend gaste bemoedig deur hulle nie blind te staar teen hulle omstandighede nie, maar moed te hou en te bly hoop.
"My ouma het my van kleinsaf geleer om my eie bed op te maak, wat ek nog al die jare doen. Sy is in my matriekjaar oorlede en ek het toe gewonder hoekom sy altyd daarop aangedring het dat ek my bed self opmaak. Vandag weet ek: Mens is nooit te goed om dinge vir jouself te doen nie. Dit hou jou nederig."
Van die ander kunstenaars wat opgetree het, sluit in 'n rieldansgroep van Barrydale, Net vir die Pret en 'n poporkes van Oudtshoorn, die Chilli Bites. Kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie het kortliks gesels oor die 16 Dae van Aktiviste teen geweld teen vrouens en kinders wat op 25 November afgeskop het ten op 10 Desember ten einde loop.
Hy het ook inwoners gemaan oor die oormatige gebruik van sterk drank en swak gedrag wat daarmee gepaardgaan.
Jenny Olivier, vrywilliger en gesamentlike koördineerder van Ouma Lena se Huis reël die Vredestafel elke jaar in samewerking met Badisa en die polisie. "Dit was nog altyd 'n droom van Ouma Lena se Huis om inwoners van die onderskeie dorpe saam om een tafel te laat sit, saam te kuier en sodoende mekaar beter te leer ken," verduidelik sy.
Kyk 'n video hieronder:
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles en speaker van die Hessequa-raad, Andrew Stroebel was onder die eregaste.
Nie eens die koue wind kon die gemoedelike atmosfeer demp nie en gaste het heerlik saamgekuier.
Almal is welkom by die Vredestafel, ongeag ras of geslag.
Derde van links is Veronica Wessels by die Hough-gesinnetjie. Van links is broer en suster Tiaan en Danica en heel regs hul ma, Chrisna.
Lees 'n vorige artikel: Vredestafel simboliseer vrede
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'