Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Buiten dat hy ernstig beseer is, is geen verdere inligting oor die toestand van die vragmotorbestuurder wat Vrydag 5 Julie per lugambulans na George-hospitaal geneem is, bekend nie.
Die vragmotor, wat tussen Albertinia na Riversdal onderweg was, het die N2 naby die Soetmelksrivier-afrit sowat 10 km buite Riversdal verlaat en omgeslaan. Die voertuig met 'n Gauteng-registrasienommer het motoronderdele vervoer.
Die oorsaak vir die ongeluk is onbekend. Omstanders op die ongelukstoneel het nie gesien wat gebeur het nie, maar het glo 'net 'n hengse slag gehoor'.
Die bestuurder was onder die voertuig vasgepen en 'n hyskraan moes gebruik word om die kajuit op te lig sodat hy bevry kon word. "Die noodvoertuig sou van Kaapstad af moes kom, daarom is die hulp van Duiwenhoks Diesel op Heidelberg, wat 'n kraanvoertuig het, ingeroep," het Adneshel Voss, hoof van beskermingsdienste gesê.
'n Stop-ry-beheerpunt was in werking terwyl die reddingspoging uitgevoer is. Die lugambulans, wat ongeveer 08:30 opgedaag het, moes op die N2 land.
Die bestuurder is teen 11:45 bevry, waarna hy na George-hospital geneem is.
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'