RIVERSDAL NUUS - 'n Man wat vir verskeie inbrake in die Blombos-omgewing by Stilbaai gesoek is, is deur 'n oplettende lid van die gemeenskap gearresteer.
Die 31-jarige Jerimia de Bruyn is op Sondag 16 Februarie deur een van Stilbaai-polisie se landelike veiligheidskoördineerders opgemerk op grond van 'n foto wat aan die publiek beskikbaar gestel is en 'n siviele arrestasie is uitgevoer.
Volgens ao. Morné D'Emiljo was De Bruyn vermoedelik vir sewe inbrake wat gepleeg is sedert sy vrylating in Januarie 2020 in terme van die presidensiële amnestie, verantwoordelik.
"Kort na die eerste inbraak is die verdagte op heterdaad in die tweede woning betrap, maar hy het daarin geslaag om te ontvlug. Ons het vermoed hy skuil êrens in die veld, maar weens gebrekkige inligting was dit ontsettend moeilik om te bepaal waar hy homself bevind. Stilbaai-polisie het op Dinsdag 11 Februarie inligting oor 'n gewapende persoon wat by 'n ander kuswoning in die Blombos-gebied inbreek, ontvang. Die verdagte se spoor is oor twee dae gevolg tot waar dit op die Blombos/Riversdal-pad verdwyn het."
D'Emiljo het die polisie se waardering teenoor almal wat bygedra het tot die ondersoek uitgespreek.
Die verdagte het reeds in die hof verskyn en sal in aanhouding bly. Die ondersoek duur voort.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'