Buiten die slaggate in 'n groot deel van die dorp se strate, sal die opgradering van stormwater afvoerpype ernstige aandag moet geniet. Heelwat inwoners wat eiendom langs die stormwaterkanaal besit, se huise was letterlik oorstroom en het groot verliese gely; nie net finansiëel nie, maar ook sentimenteel soos foto's wat verlore gegaan het en ou meubelstukke wat nie maklik vervang kan word nie. Suid-Kaap FORUM het met drie van hierdie gesinne gesels:
George en Anne Uys
Die egpaar is in Reitzstraat woonagtig en volgens George is dit die eerste keer in die 10 jaar wat hulle daar bly dat die oorstromings so erg is, hoewel hy reeds 'n paar keer in 'n kort tyd sy swembadwater heeltemal moes leegtap omdat die modderwater daaroor gespoel het. "Daar is geen manier waarop ons kon keer dat die water ook in ons huis instroom nie, want dit het van alle kante gekom. Al die basisse van ons beddens is sopwaternat, so ook ons skoene, klere, meubels en elektriese toebehore soos die stoof, yskas, vrieskas, wasmasjien en tuimeldroër. 'n Paar van ons foto albums, asook kos wat in 'n onderste rak was is daarmee heen en die tuin is heeltemal tot niet. Dis onmoontlik om nou reeds die skade te bepaal," verduidelik hy.
Hul dogter, Monique, het dadelik gehardloop om haar Bybel, skooltas en hamster na veiligheid te neem toe die water die huis instroom. Volgens Anne sou sy darem wou sien dat die munisipaliteit hul erf en die kanaal skoonmaak. Die gesin was egter verstom oor al die hulp wat hulle uit alle oorde ontvang het, selfs van vreemdelinge. "Ons het boonop van 'n hele paar mense uitnodigings ontvang vir slaapplek." Hulle bedank 'n ieder en elk vir al die hulp en aanbiedinge om te help.
Elsie en Willem Boshoff
Die bejaarde Boshoff-egpaar is afgetree en woon reeds die afgelope 17 jaar in Lourensweg, oorkant die saagmeule. Ook vir hulle is dit die eerste keer dat hulle sulke groot reënskade ervaar; 'n skade wat blykbaar voorkom kon gewees het, volgens Willem. "Ons het die nodige voorsorg getref en sandsakke voor die hek tussen die betonmure gepak," verduidelik hy. Omdat die straat oorstroom was, is dit deur die verkeersafdeling toegemaak vir verkeer. "'n Man in 'n bakkie het hom nie daaraan gesteur nie en die versperring geïgnoreer. Ons was buite en het hom probeer keer, maar hy het gemaak of hy nie hoor nie en net vinnig aangery. Die golwe wat die voertuig gemaak het, het die sandsakke laat omtuimel."
Daar was nie 'n manier wat hulle kon keer dat die water in die huis stroom nie, want dit het binne sekondes gebeur. Gelukkig vir die Boshoffs het hul kinders van Thabazimbi vir die vakansie kom kuier en het hulle met die opruimingswerk gehelp. Die volvloermatte is so beskadig dat alles uitgehaal moes word, die meubels, toerusting, skoene, klere en 'n horde ander items is deurnat. Die water het selfs deur die pype in die bad en toilet gestroom. Anders as met die Uys-gesin was daar geen aanbiedinge om hulp uit die gemeenskap nie, buiten die parapleeg, Hendrik Kruger wat vir hul besems gebring en werkers van die munisipaliteit en polisie wat hulle bygestaan het. "Ek dank die liewe Vader daarvoor dat ek positief kan bly en heeltyd kalm kon wees," het Elsie gesê.
Elize, Lizmar en Janke Blom
Suid-Kaap FORUM se redakteur, me. Elize Blom, se huis in Langstraat was weereens oorspoel, soos die geval reeds die afgelope paar jaar is sedert haar intrek daar. Volgens Blom help die sandsakke weinig en kry sy behoorlik water van alkante. Soos die geval met die Boshoff-egpaar, vererger die golwe wat motors veroorsaak wanneer hulle deur die water ry, sake drasties. Dit is ongelukkig nie moontlik om die straat te sluit nie, omdat daar te veel inwoners is wat daar bly.
Monique en haar pa, George Uys staan by die vuil swembad wat oorstroom was.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'