HESSEQUA NUUS - Konsensus tussen polisie-owerhede binne die Hessequa-streek en die plaaslike munisipaliteit is bereik oor die toelaatbaarheid van visvang op strande.
Hengelaars sal toegelaat word om langs strande vis te vang indien die hengelaar in besit is van ‘n geldige permit.
Didi Budricks, kommunikasiebeampte vir die Hessequa-munisipaliteit het vanmiddag (31 Desember) gesê die munisipaliteit, polisie en ander betrokke owerhede het vanoggend indringende samesprekings oor die kwessie gevoer.
“Ons is dit eens dat is dat visvang slegs op strande toegelaat word met ‘n goedgekeurde permit en dat bote slegs van hawens, soos Stilbaai toegelaat sal word,” het Budricks gesê.
Alle getyriviere is egter toe vir die publiek. “Daar is geen beletsel op diepseehengel nie, met bote wat steeds die geriewe van die hawens en sleephellings vir dié doel kan gebruik.”
Budricks het bygevoeg dat inwoners en besoekers daarop moet let dat die munisipaliteit en SAPD verdere konsultasie met die onderskeie regsafdelings oor die kwessie sal voer en enige verwikkelinge, indien nodig sal aan die publiek deurgegee word.
“Watersport vanaf die hawemuur en bootsleephellings word steeds toegelaat.”
Strand toeganklikheid
Niemand word ingevolge die Regulasies toegelaat om op enige van die strande in die Hessequa-munisipale area te stap, draf of enige ander tydverdryf te beoefen nie.
Budricks het gesê waar daar egter grashellings langs die strande is, word mense wel op die grasbeplante gedeeltes toegelaat, hoewel hulle nie die strande mag betree nie.
“Die onderskeie parkeerareas by strande sal steeds vir die publiek toeganklik wees en by beheerde strand parkeerareas sal die sekuriteitspersoneel besoekers daarop wys dat swem verbode is en dat geen alkohol op die strande en parkeerareas toegelaat word nie.”
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'