Update
RIVERSDAL NUUS - Ricardo Pietersen van Riversdal was baie bly toe hy 'n pamflet kry wat hom inlig dat hy 'n WhatsApp-boodskap na Riversdal-hospitaal se apteek kan stuur as hy enige vrae oor sy chroniese medikasie het.
"Ek was baie beïndruk dat hierdie soort diens vir ons beskikbaar is.
"Ek het 'n vraag oor my medikasie gehad en my versoek na die nommer gestuur. Binne 'n dag het ek terugvoering gekry," het hy gesê.
Ricardo is 1 van 77 mense wat tot dusver die aanlynplatform gebruik het vir vrae oor hul chroniese medikasie. Dit beteken korter wagtye vir pasiënte en ook minder reistyd.
Dit is te danke aan 'n slim plan deur die apteekspan by Riversdal-hospitaal om WhatsApp in te span om mense te help.
Die apteekspan is by die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, se kultuur en waardes-gesprek wat in Kaapstad gehou is, geloof vir die nuwigheid wat hulle ingevoer het.
"Apteekpersoneel kry 'n groot aantal navrae oor chroniese medikasie wat gewoonlik oor die telefoon of by die apteekvenster hanteer word.
"Verskillende generiese medikasie en die gedurige veranderinge verwar die pasiënte. Ons het geweet 'n digitale platform of instrument kon pasiënte help om verwarring en onsekerhede op te klaar," het Wendy Wilson, apteektoesighouer, gesê.
Pasiënte moet net die woord "hello" na 064 936 3265 stuur en hulle kan dan hul vraag intik. Boodskappe sal binne 24 uur vanaf Maandag tot Vrydag beantwoord word.
"Vandat die proefprojek in September 2022 begin het, het ons 77 navrae gehad wat alles in 24 uur beantwoord is. Die personeel is ook positief omdat hierdie toepassing hul werklading verminder het en, meer belangrik, die wagtye vir die pasiënte verkort het.
"Ons kon ook onverwagse bekommernisse van inwoners aanspreek, waarvan onbeheerde diabetes een daarvan is. Toekomstige planne is om dit aan die res van die Hessequa bekend te stel en om dit ook vir kliënte-opnames te gebruik," het Wilson bygevoeg.
Dr. Van Tonder, mediese bestuurder, is net so opgewonde oor hierdie innovasie. "Ons wil die gehalte van gesondheidsorg verbeter en die bestaande omgewing vorm om pasiënte, families en die gemeenskap te betrek en bemagtig deur middel van hierdie platform."
Die personeel is positief oor hierdie platform omdat dit met werklading help en pasiënte se wagtyd verminder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’