HEIDELBERG NUUS - Jenny Vorster is dankbaar en vol lof vir die vinnige optrede van die plaaslike polisie.
Sy glo hul vinnige reaksie op haar noodoproep het moontlik 'n tweede rooftog op haar huurhuis voorkom. Vorster het Donderdagoggend 16 Mei opgemerk dat mans op die hoek van die straat waar sy woon, rondstaan. Sy het die polisie gebel en binne vyf minute was hulle op die toneel. Die mans het vertel hulle verkoop hout uit 'n bakkie, maar daar was nie 'n bakkie of hout in sig nie.
Konst. Gurshwin Hartnick het bevestig dat die mans verdag voorgekom het en die oproep wat die polisie ontvang het, was moontlik net betyds om 'n misdaad te voorkom.
Vorster se huis het agt maande gelede onder inbrekers deurgeloop. Toe sy daardie dag van die huis af wegry, het sy twee pare mans weerskante van die straat gesien rondstaan. Met haar terugkeer 'n paar uur later was daar by die huis ingebreek. Gevriesde kospakkies, kruideniersware en klere het oral op die vloere gelê. Die inbreker(s) het met kos en klere, selfone en 'n rekenaar weggekom. Dis daarom dat sy op haar hoede is en die polisie skakel sodra sy van verdagte optrede in die omgewing bewus word.
Sy glo mense moet bewus wees van wie in hul strate woon en moet vreemdelinge wat daar ronddrentel, goed dophou.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'