Ampie Jansen (38) is Sondagmiddag, 1 Junie deur mans tussen die ouderdomme van 22 tot 38 jaar met stomp voorwerpe aangerand, waarna hy erg beseer na Riversdal hospitaal geneem is. Hy het met aankoms aan sy beserings beswyk.
Dit spruit na bewering uit 'n vals klag van 'n beweerde misdaad wat teen die oorledene gemaak is. Die sewe verdagtes, Ashwill Pietersen (30), Morné Michaels (33), Solomon October (40), Edmund Moses (30), Nazwin Kiewietz (33), Jerimy Michaels (32) en Elton Moses (28) het Dinsdagoggend, 3 Junie in die Riversdal landdroshof verskyn op 'n klag van moord. Die saak is uitgestel tot Vrydag, 13 Junie vir borgaansoeke in die Stilbaai periodieke hof.
Bostelegraaf gons
Daar is tans heelwat bespiegelinge waarom die grusame moord gepleeg is. Van die bewerings is dat dit vir 'n nommer gepleeg is en bendeverwant is, maar volgens ao Morné E'miljo, waarnemende stasiebevelvoerder, kan hulle nie dié bewerings staaf nie. Hy het ook ontken dat inligting verdoesel word. Volgens hom is bewerings dat 'n meisie die oorledene van verkragting beskuldig het, onwaar maar is hy wel van 'n misdaad beskuldig. Daar is ook geen bewyse dat die meisie hom beskuldig het nie. Omdat die ondersoek nog voortduur kan die beweerde misdaad waarvan hy beskuldig is, nie bekend gemaak word nie.
Kapt Bernadine Steyn, Suid-Kaap polisie woordvoerder, het bevestig dat sewe mans oor die naweek deur Stilbaai polisie in hegtenis geneem is vir moord. Sy het nie enige van die bewerings rondom 'n moord vir nommers en die beweerde verkragting bevestig nie. Sy het wel bevestig dat Jansen met stomp voorwerpe deur die sewe verdagtes aangerand is.
Gemeenskap in opstand
'n Inwoner en gemeenskapsleier van Melkhoutfontein, Adwin Saayman, noem dat die gemeenskap erg geruk, ontsteld en in opstand is oor die wrede moord, wat daartoe gelei het en die manier hoe dit gebeur het, aangesien die algemene mening is dat dié tipe vigilante geregtigheid nie in die gemeenskap hoort nie. Volgens hom is daar heelwat bewerings in Melkoutfontein dat die moord 'n nommermoord was en is klagtes in dié verband deur gemeenskapsleiers onder die plaaslike polisie se aandag gebring vir optrede.
Van die gemeenskapsleiers eis tans 'n dringende vergadering tussen hulle en die polisie. Daar is ook gevra dat brig Jantjies by die vergadering teenwoordig moet wees. Volgens hom word 'n optog hieroor beplan wanneer die verdagtes aansoek om borg gaan doen, omdat die inwoners eis dat geen borg toegestaan word nie. "Ons beoog om met die polisie samesprekings te voer op Woensdag, 11 Junie om 19:00 in die Melkhoutfontein gemeenskapsaal". Stilbaai polisie het intussen bevestig dat die vergadering tussen die polsie en die gemeenskap wel plaasvind en dat brig Jantjies ook teenwoordig sal wees.
* Jansen laat sy vrou van 20 jaar, Louise en vyf kinders agter. Die begrafnis vind plaas op Saterdag, 7 Junie om 9:00 by die huis in Rietslot 23 en daarna om 10:00 by die AGS kerk in Melkhoutfontein.
*IN SHORT
Seven suspects, aged from between 22 and 38 have been arrested by Stilbaai Police on a charge of murder. The incident took place on Sunday morning, 1 June in Melkhoutfontein. The suspects allegedly accused the deceased of a crime and assaulted him with blunt objects. Ampie Jansen (38) succumed of his wounds underway to Riversdal Hospital. Community members are very upset about the incident. They believe the vigilante incident is gang related. The suspects appeared in the Riversdale Magistrate Court on Teusday, 3 June. The case has been postponed to Friday 13 June in the Stilbaai Periodical Court.

Die huis in Palmietslot, Melkhoutfontein waar Jansen aangerand is deur die sewe jong mans.