HESSEQUA NUUS - Die tyd van die jaar so aan die stertkant van die somer word talle klein diertjies op die Hessequa-streek se paaie gesien.
Krappe, skilpaaie en slange is maar 'n paar van ons medepadgebruikers.
Een van die kleiner soorte wat dikwels as waardeloos afgeskryf word, is vlermuise.
Hulle is egter baie belangrik in die ekologie en die tradisionele bangmaakstories oor hul sogenaamde bloeddorstigheid is glad nie waar nie. Dis slegs een spesie in Suid-Amerika uit die sowat 1 200 wat wêreldwyd bestaan, wat bloed drink.
Vlermuise se ingeboude biosonar sorg dat hulle meeste botsings vryspring. Motors se groot glasvensters is ongelukkig die uitsondering op dié reël.
Diere soos vlermuise, walvisse en dolfyne stuur klankpulse in die vorm van kliekgeluide na hul omgewing uit. Die eggo's wat terugkom help hulle bepaal waar iets in hul pad is.
'n Gladde vertikale oppervlak soos 'n venster stuur geen eggo's terug nie en dus aanvaar die vlermuis verkeerdelik daar is 'n opening.
Volgens navorsers sien hulle 'n gebrek aan terugkerende eggo's van onder af as moontlike water en bly weg daarvan, maar vertikale obstruksies sonder eggo's maak vir hulle geen sin nie.
Die toenemende aantal hoë geboue met groot vensters, motors en windturbines se lemme is moderne gevare waarvoor vlermuise nog geen genetiese verwysingspunte ontwikkel het nie.
In 'n boerderygemeenskap is die diertjies van groot nut ten spyte van hul slegte reputasie by veral vrugteboere.
Vrugtevlermuise is vir die bestuiwing van heelwat plantspesies verantwoordelik wanneer hulle 'n mondvol vrugte vat en dit op 'n ander plek gaan sit en eet. Die insekvretende variëteit eet ook tonne peste en plae in boorde en landerye op, wat die nodigheid vir insekdoders heelwat verminder.
Mens kan nie noodwendig 'n vlermuis op vol spoed vermy in 'n motor nie, maar wees tog maar op die uitkyk vir al die kleiner diertjies van ons omgewing.
'Ons bring jou die nuuste Hessequa nuus'