RIVERSDAL NUUS - 'n Sleutel van 'n Toyota-voertuig wat meer as bykans 'n jaar gelede by Suid-Kaap Forum ingehandig is, het uiteindelik sy eienaar gevind.
'n Plaaslike inwoner, Charlotte Geringer het die sleutel Oktober verlede jaar voor North Park woonstelle opgetel. Die koerant het 'n foto daarvan in die volgende uitgawe van die koerant geplaas, sonder enige sukses en het vermoed dat die eienaar(s) daarvan dit vermoedelik tydens die skoolvakansie verloor het.
"Omdat niemand navraag gedoen het nie, was die kanse goed dat hulle oor 'n spaarsleutel beskik het. Tog het dit my gehinder en was ek van plan om dit later weer in die koerant te plaas. Ek het die sleutel op my lessenaar in die briewemandjie gesit om daarvan te onthou," vertel Wilma Adamson, redakteur.
San-Marié Cronjé, joernalis het die sleutel Dinsdag in die mandjie opgemerk en daaroor uitgevra, omdat sy eers Januarie vanjaar by die koerantspan aangesluit het. Op die ingewing van die oomblik het sy besluit om die plaaslike Toyota-handelaar te skakel, maar hulle kon haar nie help nie omdat hulle blykbaar ook die VIN-nommer van die voertuig moes hê om te kon bepaal aan wie dit behoort.
Sy is na McCartney-Toyota verwys, omdat die sleutelhouer van hulle af kom - maar ook hier het sy 'n bloutjie geloop.
Beswaarlik 'n uur later het Chrisna Fourie van die dorp by die koerant opgedaag. Sy wou vir haar 'n spaarsleutel laat maak omdat sy haar ekstra sleutel lank gelede verloor het en het besluit 'vandag is die dag'.
By Riversdal Toyota het hulle aan haar genoem dat die koerant 'n verlore sleutel het en haar aangeraai om eers te kom seker maak of dit nie hare is nie.
"Ek was verstom toe ons die sleutel toets en dit wel my motor oopsluit," vertel sy. "Dit is ongelooflik dat ek juis vandag besluit het om 'n spaarsleutel te laat maak - en dat die koerant na al die tyd hulle ook vandag gekontak het!"
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'