Update
RIVERSDAL NUUS - Twee Pitbull-honde het Saterdag, 31 Julie omstreeks 08:00 vee aangeval en erg beseer.
Die voorval het in Vetterivier-rylaan, Riversdal plaasgevind. 'n Bul, drie koeie en een kalfie het onder die honde deurgeloop.
Die plaaslike polisie is op soek na die eienaar van die twee honde om verantwoordelikheid te aanvaar vir die beserings wat die beeste opgedoen het.
"Eienaars van honde moet sorg dat hulle honde 'n vorm van identifikasie aan 'n halsband met 'n naamplaaitjie of 'n mikroskyfie met die eienaar se kontakbesonderhede daarop aanbring, sodat honde wat alleen in die strate ronddwaal uitgeken kan word," vra sers Christiaan Jansen, polisiekommunikasiebeampte.
"Troeteldier-eienaars moet toesien dat hulle diere nie uit die erf kan kom nie om te voorkom dat hulle die strate invaar en mens of ander diere kan beseer. Wanneer 'n eienaar met sy hond(e) gaan stap, moet hulle ook aan 'n leiband wees."
Enigiemand met inligting omtrent die voorval kan Riversdal-polisie kontak (028 713 8500).
Vorige artikel: Honde val beeste aan
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'