Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Varkplaas teen 'n skuinste en 'n aantal strukture teen die bult, 'n paar kilometer buite dié dorp op die N2, rigting Mosselbaai het die gemeenskap kriewelrig.
Buiten die kampe teen die helling waar die varke vrylik rondbeweeg, is daar ook 'n groot kamp waar die yslike landras-teeldiere aangehou word, 'n kleiner struktuur waar klein varkies grootgemaak word, verskeie baksteen- en houtstrukture, asook 'n karavaan. Daar loop ook 'n paar beeste, 'n ooi met tweelinglammers, ganse en hoenders.
Pieter de Wit, die eienaar, verhuur die grond al 12 jaar lank aan Marlon du Preez, 'n kleinboer wat op varkboerdery fokus.
"Ek het 'n maand lange kursus in Pietermaritzburg deurloop om meer te leer van varkboerdery," vertel Du Preez. Hy skryf die teelsukses, wat weerspieël word in die werpsels van tussen 12 tot 18 kleintjies op 'n keer, toe aan 'n goeie beer.
By navraag het die Hessequa-munisipaliteit gesê daar is geen 'onwettige strukturele aktiwiteite' op die plaas nie.
Hannes Geldenhuys, boubeheerbeampte, het soos volg kommentaar gelewer: "Hessequa-boubeheer het die terrein, plaas no. 277/25 op 25 Februarie 2019 besoek na aanleiding van 'n navraag van die publiek oor die sogenaamde plakkerskampstrukture in die kloof en die varke teen die skuinste. Op 26 Februarie 2019 is daar 'n kennisgewing aan die eienaar gestuur waarin hy 30 dae gegun is om bouplanne vir die strukture in die kloof vir moontlike goedkeuring in te dien."
Kort daarna is boubeheer ingelig dat die sogenaamde plakkerskampstruktuur, wat uit 'n tent bestaan het, reeds verwyder is en 'n opvolginspeksie het dit bevestig. Die 'strukture' in die kloof is nat kleistene wat opmekaar gestapel word om deur middel van 'n vuur wat binne-in die stapel gemaak word, gebak te word. Seile word soms oorgegooi om te verhoed dat die nat stene disintegreer wanneer dit reën.
Volgens Garden Route-distriksmunisipaliteit se gesondheidsinspekteurs hou die varkhokke geen gesondheidsrisiko in nie. "Die hokke word gereeld skoongemaak, daar is geen poele afloopwater of afvalmateriaal nie, die reuke gaan gepaard met 'n normale varkboerdery en vlieë word beheer."
The public is concerned about the possible health risk of a pig farm on the slope and what seems to be a squatter camp on the hill above it along the N2 close to the Stilbaai turnoff. South Cape Forum approached Hessequa Municipality and Eden Health Department for comment. Both municipalities gave the assurance that none of the structures are illegal and that the piggery is well-run and does not pose any health risk.
Lees 'n vorige artikel hier: Varkplaas en strukture langs N2 is wettig
'Ons bring jou die nuuste Riversdal, Hessequa nuus'