ALBERTINIA NUUS - Faieq Valtyn, 'n boorling van die dorp is as hoof- uitvoerende beampte van die versekeringsfirma Mic Fin aangewys.
Hy het as kind in dié dorp grootgeword en skoolgegaan.
Valtyn het gesê: "Na skool het ek begin uitkyk vir werk waar ek begin "casual" het by verskillende werksplekke. Wat vir my die meeste van alles uitstaan, is dat ek op 'n tyd in 'n vrugteboord op Buffeljagsrivier gewerk het. Dit was om net iets te kan verdien.
"So het ek betrokke geraak by EDENfm se Give thanks-uitreikingspan waar ons van dorp tot dorp gegaan het. Ons het vir minderbevoorregte gesinne en kinders, elke maand kos en klere uitgedeel. Ons het hulle daarna met die Woord bedien."
Die stasiebestuurder van EDENfm het sy potensiaal raak gesien en hom werk as omroeper by die stasie se Hessequa-studio aangebied, waar hy twee jaar as omroeper gewerk het.
Hy het vir 'n bemarkingspos by Mic Fin in 2012 aansoek gedoen. Baie mense het vir hom gesê dat hy die regte besluit geneem het.
"So het ek van deur-tot-deur gegaan en te voet bemarking gedoen. Ek het altyd vir myself gesê ek gaan die beste daarvan maak."
Met verloop van jare het hy verskillende bevorderings gekry, waarvan die eerste takbestuurder was. Daarna het streekbestuurder en direkteur gevolg.
Hy is Vrydag 14 Junie as hoof- uitvoerende beampte aangewys. Valtyn kan steeds elke Woensdagmiddag tussen 17:00 en 18:00 op EDENfm gehoor word. "Ek wil eerstens die eer aan my Hemelse Vader toeswaai en baie dankie sê aan my vrou en familie wat my so ondersteun."
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'