RIVERSDAL NUUS - Danie van der Nest lê die tuig na 38 jaar se diens in die onderwys en skoolhoof van Laerskool Volschenk neer.
Van der Nest was 30 jaar betrokke by dié laerskool waar hy in 1989 sy eerste tree as 'n posvlak een onderwyser gegee het.
Hy het sy onderwysloopbaan in 1983 by Laerskool Staatspresident Swart in Kimberley begin waarna hy en sy vrou, Elmien, 'n aanstelling by Hoërskool Indwe in die Oos-Kaap aanvaar het.
In 1981 is hy as departementshoof by Laerskool Volschenk aangestel en in 2013 het hy die pos as hoof aanvaar.
Die redaksie van die skool se eie koerantjie, Eseltjie X-press het 'n onderhoud met hom gevoer. Tydens die onderhoud het hy genoem dat hy in Stilbaai by sy strandhuis gaan aftree waar hy gaan rus en bouwerk aan die huis doen. Hy beoog om aandag aan sy persoonlike belange te skenk en saam met sy vrou deur die land en buurlande te toer.
Hy vertel dat die skool deel van sy lewe geword het en dat hy die opregtheid van die kinders sal mis. Briefies van leerders getuig van die besondere indruk wat hy gemaak het.
Van die leerders getuig van sy vriendelikheid, saggeaardheid, opregtheid en absolute deernis met kinders. Leerders het hom respekteer doodeenvoudig omdat hy elke leerder se eie ruimte waarin hy leef, respekteer het. Hy sal ook onthou word vir sy teenwoordigheid by sportbyeenkomste.
Van der Nest kan nie een hoogtepunt in sy loopbaan uitsonder nie. Vir hom was elke sukses wat 'n leerder in akademie, sport of kultuur behaal het, iets besonders. 'n Onvergeetlike oomblik was egter die dag toe hy die verhooggordyne in die saal afgebrand het. Hy is dankbaar vir sy gesondheid en dat hy die voorreg het om saam met sy vrou te kan aftree.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'