Update
RIVERSDAL NUUS - Skoolkinders wat baklei en mekaar met skêre wou steek, het Donderdagaand 15 Februarie groot ontwrigting by die plaaslike landbouskou veroorsaak.
Bewerings dat dit 'n rassistiese aangeleentheid was, is nie waar nie omdat die betrokkenes van dieselfde ras is.
Baie leerders het daardie aand die skou bygewoon omdat die massa-aflos atletiekbyeenkoms die aand plaasgevind het.
Volgens een van die sekuriteitsbeamptes wat by die hoofhek diens gedoen het, is hulp op die tweerigtingradio van die ander hek, naaste aan die mallemeule aangevra.
Dié leerders is geïdentifiseer en skêre is by hulle gevind en afgeneem. Sekuriteitswagte het seker gemaak dat hulle die terrein verlaat.
Een van die leerders was blykbaar hardkoppig en wou nie die skouterrein verlaat nie.
'n Struweling het blykbaar ontstaan, waarna 'n beampte die kind glo met pepersproei afgeweer het.
Die ontstoke leerders het die skouterrein verlaat en 'n groot groep het met byle, messe en stokke teruggekeer.
Tussen dié groep was persone wat gratis toegang probeer verkry het.
Hulle het die hek probeer oop forseer en het klippe na die beamptes en kaartjieverkoophokkie begin gooi.
Een van die beamptes is met 'n voorwerp oor die kop geslaan en moes steke kry.
Die ander beampte se arm is met 'n byl oopgekap en moes na die hospitaal geneem word.
Een van die beamptes se kop is moontlik met 'n pyp oopgeslaan.
Volgens lt.kol. Delicia Isaacs is 'n klag van oproerigheid ontvang.
"Geen saak is nog aanhangig gemaak nie. Wangedrag van skoolkinders sal egter onder geen omstandighede geduld word nie.
"Daar sal op die korrekte wyse met persone wat skuldig is aan kriminele aktiwiteite, gedeel word, hetsy minderjarig of nie. Niemand is verhewe bo die wet nie."
Die polisie het gedurende die res van die skou die terrein gepatrolleer.
Klippe is na die hek, kaartjieverkoophokkie en beamptes gegooi. Die plank is blykbaar gebruik om beamptes mee aan te rand.
Die skoubestuur het gesê dat hulle tevrede is dat die beamptes so vinnig opgetree het om die veiligheid van ander skougangers en leerders te verseker.
Lees 'n vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'