WES-KAAP NUUS - Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het 'n uitdagende stadium in die wingerdseisoen bereik vanweë die voortslepende droogte en lae watervoorrade in die provinsie.
Volgens die bedryfsliggaam Sawis (SA Wynbedryf-Inligting &-Stelsels) voorspel 'n tweede oesskatting van die Suid-Afrikaanse wyndruiwe-oes in die tweede week van Januarie 'n nog kleiner druiwe-oes as vorige opnames wat einde November 2017 gedoen is – moontlik die kleinste sedert 2005.
Francois Viljoen, bestuurder van konsultasiediens vir die wynbedryforganisasie, Vinpro, sê die oes-afname tendens wat die afgelope twee maande voorspel word kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die warm en droë weerstoestande vroeg in Desember.
"Feitlik geen noemenswaardige reën het in dié periode geval nie en heelwat warm dae (bo 35°C) is aangeteken.
"Dít, tesame met 'n gedurige suidoostewind het die waterverbruik van wingerde verhoog."
Die Wes-Kaap ondervind 'n voortslepende droogte vir die derde agtereenvolgende seisoen met damvlakke op 26,6% teenoor 41,6% in 2017.
Meeste produsente is afhanklik van besproeiingswater uit die verskillende besproeiingskemas wat reeds vanaf vroeg in die 2017-groeiseisoen gerantsoeneer is.
Waterkwotas is met 50-80% gesny.
"Hierdie beskikbare water is eenvoudig nie genoeg om tans aan die wingerde se behoeftes te voldoen nie," sê Viljoen.
"Dit beteken wingerde begin nou simptome van watertekort wys en korrelgroei neem af."
Reën wat wegbly, watervoorrade wat krimp en warm dae wat voortduur, kan vorentoe verder bydra tot 'n krimpende 2018-oes.
Die Olifantsrivier-streek word die ergste geraak deur die droogte en produsente in hierdie streek is slegs 17% van die normale waterkwota uit die Clanwilliam-dam (nou 19,9% vol) deur die loop van die seisoen toegelaat.
Die Oranjerivier-streek is tans die enigste wynstreek wat geen watertekort ondervind nie.
"Hierdie is 'n uiters moeilike tyd in landbou met die bedryf wat swaar getref word deur die voortslepende droogte," sê Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede.
"Tot op hede het die departement van landbou R67 miljoen in droogtebestryding bestee om landbouers te help om hul besighede te behou."
Suid-Afrika is die negende grootste wyndruifprodusent ter wêreld en dra 4% tot globale produksie by.
Die bedryf voer 440 miljoen liter wyn uit en verkoop 400 miljoen liter plaaslik.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'