Update
STILBAAI NUUS - Die toerismebedryf is verlede jaar erg deur die Covid-19-pandemie geknou, maar daar is hoop.
Dit is volgens Dries de Beer, voorsitter van Stilbaai-toerismeburo tydens hul algemene jaarvergadering op Dinsdag, 19 Oktober by Stilbaai-gholfklub.
Die vergadering is goed deur 50 lede bygewoon en die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles kon ook hiervoor tyd in sy besige program inruim.
In sy oorsig het De Beer gesê dat die afname in toeristegetalle wat beduidend meer was as in die verlede, as gevolg was van die strande wat gesluit was, die raakrugbytoernooi (Touchies) wat afgestel was en die rubberboot-wedren wat nie plaasgevind het nie.
"Stilbaai is egter steeds 'n gewilde vakansiebestemming vir plaaslike, sowel as buitelandse toeriste. In 'n onlangse studie is juis bevind dat buitelandse toeriste, veral die Britte, gretig is om na Suid-Afrika terug te keer. Stilbaai gaan sewevoudig terugkry wat in 2020 verloor is."
De Beer het die sakelui en borge bedank wat gehelp het om die buiteluggimnasium by Lappiesbaai 'n werklikheid te maak en dat dit nou gereed is om gebruik te word. Hy het ook die bestuur, en spesifiek die twee dames in die kantoor bedank vir hulle harde werk in hierdie uitdagende jaar.
Die toerismeburo het op hierdie stadium 227 lede, wat uitstekend is en meehelp dat ledegeld nie verhoog gaan word nie.
Izak Venter, voorsitter van die Hessequa Argeologiese Vereniging was die gasspreker en hy lig die lede in oor vordering wat gemaak word met die beplande Argeologiese Museum in Stilbaai.
Wolmarans het 'n ere-sertifikaatpostuum en 'n simboliese vyeboom aan Kassie Kasselman oorhandig vir wyle Liesel Kasselman se merkwaardige bydrae tot toerisme in die Stilbaai-omgewing.
Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer het gesê dat die verskillende organisasies in die dorp ongelooflik goed werk en mekaar in so baie opsigte ondersteun.
"Dit is wat Stilbaai so spesiaal maak. Ek wens Dries en sy span alle sterkte toe en bedank julle vir wat julle vir die dorp en omgewing doen."
Die nuwe bestuur vir 2021/2022 was ook verkies, met De Beer wat weer as voorsitter sal dien.
Die res van die bestuur
Marianne en Naas Scholtz, Elmarie Smit, Annerise Wolmarans, Peter Heesen, Rochalle Minnaar, Hennie Lötter, Laetitia Loots, Riaan Moag, Louise Gerryts en Derek Odendaal.
Van die nuwe bestuurslede is (van links) Marianne Scholtz, Naas Scholtz, Elmarie Smit, Annerise Wolmarans, Dries de Beer, Peter Heesen, Rochalle Minnaar en Hennie Lötter.
VORIGE ARTIKEL: Toerisme sal verbeter
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'