RIVERSDAL NUUS - Die Gouritz-groepbiosfeer-reservaat (GCBR), Hessequa-kunsroete en Hessequa-biblioteke se tienerkunskompetisie - met die tema “Inheems” - ontgin talent en kweek kreatiwiteit.
Die doel van die kompetisie is om omgewingsbewustheid te bevorder.
Die streek se hoërskoolleerders van 13 tot 19 jaar het hul stapskoene aangetrek en met potlood, kwas en kamera die natuur herontdek.
Die inheemse fauna en flora, berge en stroompies, die diere en die mense van die omgewing was in hul skeppende visier.
Hulle kon in die afdelings tekenkuns, skilderkuns, fotografie en grafiese ontwerp deelneem. Teen die spertyd is reeds 'n stewige aantal inskrywings ontvang.
Die belangstelling het soos 'n veldbrand versprei en 'n aantal skole het laat weet daar is nóg leerders wat graag wil deelneem.
Die spertyd is tot Vrydag, 20 Oktober verleng.
Al die werke word op 25 Oktober by die burgersentrum uitgestal. Die uitstalling open halftwee die middag en duur tot seweuur die aand. Die prestige-prysuitdeling begin sesuur.
Foto’s: CJ de Swardt
Nikki du Toit, 'n sosiale media-beïnvloeder, spog tussen fynbos met die Inheems-tienerkunsplakkaat by die ingang van die Sleeping Beauty-staproete in Riversdal. Foto: Riette Error
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’