HESSEQUA NUUS - Sy het eens op 'n tyd drome van studies na skool en 'n beroepsloopbaan gehad.
Sedert haar swangerskap is die jong meisie se planne van die baan.
Die realiteit van kind grootmaak in 'n uitdagende ekonomiese klimaat en sonder die ondersteuning van die pa het haar toekomsvisie baie nouer gemaak.
Volgens Hessequa-munisipaliteit se sosio-ekonomiese profiel vir 2018 het die koers van 10.6 tienerma's per 1 000 lewende geboortes in 2016/17 tot 18.7 in 2017/18 gestyg. Dis ontstellende syfers wat nie net die plaaslike gemeenskap nie, maar uiteindelik ook die hele land beïnvloed.
Die Let's talk-veldtog wat in 21 lande in suidelike en Oos-Afrika geloods is om sosiale en gedragsveranderinge deur oop gesprekke te weeg te bring, het in Augustus ook in Suid-Afrika afgeskop. Unesco se streekdirekteur Remmy Shawa het benadruk dat seuns nie uit die opvoeding gelaat moet word nie. "Seuns is deel van die probleem, maar hulle is ook deel van die oplossing," het hy gesê.
Volgens Badisa se maatskaplike werker in Stilbaai, Corlia Hauptfleisch, word die kind dikwels die ouma se probleem omdat die ma nie oor voldoende lewensmiddele beskik om vir die baba te sorg nie. Die kindertoelaag wat deur die staat betaal word kan nie alle uitgawes dek nie en word ook soms onoordeelkundig gebruik.
Magda Kamfer van Riversdal-kindersorg betreur die gebroke huislike omstandighede en gebrek aan dissipline wat volgens hul ondervinding dikwels die aanleidende oorsake vir tienerswangerskappe is. Baie kinders is nie in hul ouerhuise gelukkig nie en word boonop grootliks aan hul eie lot oorgelaat as gevolg van verskillende faktore in die ouers se lewe. Sulke kinders soek desperaat na liefde en beland maklik in 'n onbeplande swangerskap.
Maatskaplike werkers is dit eens dat tienerswangerskappe die hele gemeenskap se probleem is. Dit het tyd geword om eerlik en reguit met mekaar oor die probleem te praat en saam te werk om 'n oplossing te vind.
IN SHORT
With some 82 000 learners between the ages of 14 and 19 having fallen pregnant in 2017 alone, South Africa is pinning its hopes on a social and behaviour change campaign to curb early and unplanned teen pregnancies.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'