RIVERSDAL NUUS - Die aanbreek van ‘n nuwe skooljaar is altyd ‘n opwindende affêre!
Maar vanjaar, weens die heersende Covid-19-pandemie is dit ánders – veral by primêre skole.
Skoolbusse ry wel nog kinders aan. Maar die busdrywer is gemasker.
Die leerders is gemasker.
Die opvoeders is gemasker.
Hulle werskaf al van sesuur die oggend by die skool om alles gereed te kry om te verseker dinge verloop vlot.
En, anders as in ander jare, daag al die leerders nie gelyktydig vir die eerste skooldag op nie; net die helfte van die leerders word as gevolg van die korona-maatreëls toegelaat.
Die klaslyste is buite op die draad vasgeplak.
Kinders daag vir die eerste skooldag op, maar hulle word weggewys, want hulle is in die tweede groep ingedeel en is eers op die volgende dag se bywoninglyste.
Bekommerde, ook gemaskerde ouers, moet die skugter nuwelingetjies by die skoolhek aan die vriendelike, dog vreemde, gemaskerde Juffrou of Meneer oorhandig.
En dan begin die ontsmetting... Skoene, hande... koors word gemeet.
Alles ter wille van veiligheid.
Die eerste dag van die 2021-skooljaar is hoofsaaklik deur kontrolering, gesondheid-oriëntasie en veiligheidsmaatreëls in beslag geneem.
In die klasse word streng gemaskerde fisieke afstand toegepas. Dan word die hand- en skryfboeke uitgedeel en die boek-oortrekkery begin.
En nou eers begin dit regtig soos skool-skool voel!
Hoe gerat is Riversdal se laerskole of gaan dit ‘n gemaskerde wonderwerk verg om die jaar te red?
“Ongeag die omstandighede wil ons ons kinders vanjaar na hoër hoogtes lei sodat hulle tot die welslae van die gemeenskap kan bydra. Saam met die ouers se opofferinge sal ons in geloof die hoop saai dat ons sal help bou aan die toekoms van die samelewing,” sê Japie Kellies, skoolhoof van Panorama Primêr, die skool met die grootste aantal leerders - oor die 1 100 - op die dorp.
Crystal Pietersen-Grootboom, skoolhoof van Voorwaarts Primêr met ? leerdertal van sowat 800, wil ? holistiese benadering tot die skooljaar volg. “Dit is ons leuse om ‘n positiewe leerkultuur te kweek deur ons klasse so kreatief, aantreklik en aanloklik te maak. Die leerdergetalle het die afgelope jare aansienlik gegroei. Dit verryk ons moraal en dit motiveer ons om goeie waardes
by ons leerders te kweek. Die departement van onderwys het 2021 as die waarde-gedrewe jaar geoormerk. En dit is ook ons doelwit.”
Denise Riddles is al dertig jaar lank in die onderwys en sy is deeglik bewus van die veranderende uitdagings. “Deur die jare het talle goeie dinge gebeur; sommige dinge was met tye egter minder goed. Kinders, hoewel in die minderheid, is baie ongehoorsamer as destyds. Hulle is boonop geweldig van hul regte bewus en sal jou gou daarop wys. Maar ons hanteer dit soos dit kom en maak die beste van elke uitdaging.”
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'