RIVERSDAL NUUS - Louisa Elbrink (64), 'n oud-onderwyser van Riversdal en by inwoners beter bekend as juffrou Livy is na 'n kort siekbed op 22 Mei oorlede.
Louisa is op 12 November 1955 uit die huwelik van Willem en Annie Elbrink gebore. Sy voltooi haar laerskoolopleiding by St Andrews EK skool en voltooi matriek by Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool. Sy bekwaam haar as onderwyser by die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland en begin haar loopbaan by Panorama Primêre skool in 1977. In 1978 word sy permanent aangestel.
Die juffrou met haar blou Mazda, Blou Meraai, was geliefd onder die leerders.
Sy was verantwoordelik vir die afrigting van netbal, tennis en liggaamlike opvoeding. Sy onderrig Afrikaans as eerste taal vir die graad sewe-leerders. In 1992 behaal sy haar hoër onderwysdiploma by Bellville Onderwyskollege en in 2002 word sy as departementhoof aangestel. Sy verlaat die onderwys in Desember 2015 na 'n tydperk van 38 jaar.
Die klein, intieme dankseggingsdiens het op Saterdag 30 Mei uit die St Andrews kerk plaasgevind en is gelei deur eerw Noel Weber. Die troosboodskap is deur eerw Johan Fielies gelewer. Tydens die teraardebestelling het haar laaste graad sewe-leerders van 2015 die skoollied en gesange gesing.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'