RIVERSDAL NUUS - Die einde van 'n era het aangebreek met die dood van Anthonie Hendricks van Riversdal, toe platejoggies nog musiek met 'n platespeler en PM 10-batterye verskaf het.
Anthony, alombekend as Lang Toon as gevolg van sy lengte, is Dinsdag 5 Desember oorlede.
Hy was vroeër as bakker by Riversdal Bakkery in Barrystraat, waar Droom se kantore tans geleë is, werksaam vanaf 1975 tot 1995.
Naweke het hy musiek by funksies verskaf, veral by die destydse washuis waar Kindersorg se kantore vandag is.
Sy toerusting was 'n draagbare platespeler met plate en batterye.
Hy het ook Saterdagaande musiek in die kroeg in die destydse Bellevue Hotel op Stilbaai verskaf, dikwels tot argwaan van sers. Barnard.
Willem Elbrink met sy huurmotor was die amptelike vervoerdiens.
Na sy uittrede by die bakkery was hy 'n verwer in die konstruksiebedryf. Hy word oorleef deur sy vrou, Katie en kinders.
Die begrafnisreëlings was teen spertyd nie bekend nie.
ARTIKEL: KEITH EKSTEEN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'