RIVERSDAL NUUS - Terwyl verbruikers jubel oor die vooruitsig dat brandstof darem goedkoper gaan wees as die Covid-19-inperking verby is, kry vulstasies baie swaar.
Vogens die sentrale energiefonds sal die prys van petrol in Mei met sowat R1,89 val, terwyl die prys van diesel na raming sowat R1,17 per liter minder sal kos.
Dit sal die petrolprys langs die kus op R11,37 en die dieselprys op R10,92 te staan bring. In die binneland sal petrol teen R12,07 en diesel teen R11,52 kos.
Volgens Daleen Badenhorst, vulstasie-eienaar, slaan die inperking vulstasies baie hard. “Die verkope het baie geval, want daar is geen voertuie op die pad nie en geen klante in die winkel nie. Tog word van ons verwag om 24 uur oop te bly om nooddienste te ondersteun. As gevolg van ’n baie laer inkomste, is die werksure van personeel verkort en die aantal personeellede aan diens drasties verminder.”
Dit is die uitgawes waaroor sy tot ’n mate beheer het, maar: “Ons het steeds oorhoofse koste soos huur van die perseel, kaartmasjiene, voorsieners van elektroniese dienste, sekuriteit, franchise-fooie en ’n elektrisiteitrekening van sowat R50 000 elke maand.”
Voorts moet die winkel oop bly en daar moet voorraad op die rakke wees. “Ons bestel minder, maar die rakke moet steeds volgepak bly.”
Die grootste uitgawe is die brandstof wat afgelewer en die volgende dag betaal moet word. “As die tenks vandag volgemaak word, word die bedrag onmiddellik uit die bankrekening onttrek. Ons moet ons kontantvloei baie mooi dophou sodat ons nie te veel brandstof het wat lank gaan neem om te verkoop nie sodat ons die leweransiers en werkers se salarisse kan betaal.”
Volgens haar help dit nie vulstasies dat die prys van brandstof waarskynlik in Mei verder gaan daal nie: “Daar is niemand wat brandstof ingooi nie, so ons word op die oomblik net so min as die motoris bevoordeel. Gelukkig daal die kosprys waarteen ons die brandstof aankoop in tandem met die daling in die prys wat die verbruiker betaal.”
Volgens nog ’n vulstasie-eienaar wat nie sy naam genoem wil hê nie, sal die verlenging van die inperkingstyd dramatiese gevolge hê. “Daar is geen omset nie, maar ons moet oop bly om brandstof aan nooddienste te verskaf. Die restaurant en koswinkel mag nie ’n brekfis of ’n pastei verkoop nie - en dit is op daardie ekstras wat ’n vulstasie oorleef. As die inperkingstyd nie gou opgehef word nie, gaan Covid-19 slagoffers op ’n ander vlak as net medies eis.”
Dié sentimente word deur die eienaar van Putstop buite Stilbaai, Ben Vorster, beaam. Hy sê hul verkope, wat brandstof en die winkel insluit, is slegs 20% van wat dit was, terwyl sy onkostes dieselfde gebly het. Voorraad vir die 24 uur-winkel is ook moeiliker bekombaar.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'