RIVERSDAL NUUS - 'n Eertydse bobaas-bakster en oud-onderwyser, Rachel Jemina Robertson (neé Steyn) van Riversdal het Maandag, 27 September die 100ste herdenking van haar geboortedag gevier.
Tannie Rachel is hier gebore en was die grootste deel van haar lewe in die Hessequa-streek bedrywig. Sy was onderwyser by skole in Riversdal, Kruisrivier, Albertinia en Melkhoutfontein, maar ook sover as Kaapstad.
"Ek is nog gesond en opgewek en kommunikeer nog goed met mense. Dis maar net die gewone oumenspyne wat ek kry," vertel sy met 'n vonkel in die oog, 'n teken dat sy nog 'n sin vir humor het.
Sy vertel trots van haar reise regoor die wêreld en noem dat sy in Israel dieselfde pad as Jesus gestap het, tot by die berg Golgota.
Pragtige blomme en ruikers het die vertrek volgestaan.
In haar jonger dae het sy baie vir kinders en oumense omgegee en gedoen wat hulp nodig gehad het. Sy het siek bejaardes besoek en vir hulle kos gevat. Baie kinders het by haar gebly om hier skool te gaan en wanneer 'n kind nie warm baadjie gehad het nie, het sy moeite gedoen om te help.
Tannie Rachel se man, Samuel is verlede jaar in die ouderdom van 89 jaar oorlede en hulle het net een dogter, Patsy Michaels.
"Die burgemeester, rdl Grant Riddles het vanoggend om 09:00 my besoek en ek het sertifikaat by hom gekry," vertel sy trots. Sy het ook van die kerk 'n sertifikaat gekry en baie kaartjies en blomme vanaf vriende en familie wat haar besoek het.
Foto's: Henry Snyman
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'