Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Hy was amper dood, maar gebede het hom deurgedra.
So sê Katrien (Babie) Saayman, Cruise Saayman (23) se ouma, wat hom nie 'n oomblik alleen gelaat het na hy op Sondag 2 Februarie ernstig in 'n aanranding beseer is nie.
Sy is saam met hom in die ambulans van Riversdal- na George-hospitaal, van waar hy met die Rooikruis-helikopter na Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas is.
Daar het hy 'n operasie van vier ure aan sy skedel ondergaan. Waar die been verbrokkel het toe 'n baksteen wat deur die voertuig se venster geslinger is, moes 'n plaat ingeplant word.
Maar nou is hy terug onder haar vlerk en sy kloek soos 'n besorgde moederhen om hom.
Hy is Woensdag 12 Februarie per ambulans na Riversdal-hospitaal teruggebring, waar hy tot Maandagaand 17 Februarie aangesterk het.
"Toe ek hom vat om die wondbedekking te vervang, het ek vir die eerste keer die dokter ontmoet wat hom daardie nag behandel het,' vertel sy. "Sy het gesê hy het by die dood omgedraai. Toe sê ek vir haar: 'Dokter, dis net gebede wat hom gered het'."
Haar geliefde kleinseun het by haar en sy oupa Dawid grootgeword.
Suid-Kaap Forum het gaan kyk hoe dit met hom by hul huis gaan:
Van die gebeure vooraf onthou hy nie veel nie. "Ek onthou net ons is aangeval al het ons hulle niks gemaak nie," vertel hy terwyl hy op die bed met 'n groot pleister op sy kop lê. Van die rit na die hospitaal hier en George onthou hy niks, ook nie van die helikoptervlug wat hom na Groote Schuur geneem het nie. "Die eerste gesig wat ek gesien het toe ek bykom, was my ouma s'n."
Die voorval het sy lewe verander. "Ek is nou klaar met al die negatiewe dinge soos drink en om uit te gaan." Hy het vir Working on Fire gewerk en sou ook vir Riversdal Blues begin rugby speel het, maar dis nou ook iets van die verlede.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'