Update
SWELLENDAM NUUS - Die munisipaliteit het aantygings dat die dorp se waterbronne wanbestuur word, ten sterkste ontken.
Die munisipaliteit het op 17 Januarie aangekondig dat vlak 2-waterbeperkings ingestel word.
"Ons is bewus daarvan dat gerugte versprei en wilde aantygings oor die sogenaamde wanbestuur van ons waterinfrastruktuur gemaak word," sê burgemeester Nicholas Myburgh. "Hierdie optrede is uiters onverantwoordelik en word gedryf deur mense met verskuilde agendas en duistere motiewe. Dit is jammer dat heelwat mense op die wyse op sleeptou geneem word en soms selfs bydra om hierdie ongegronde aantygings verder te versprei."
Myburgh verduidelik dat die gebrek aan reën, uitermatig hoë verdampingsvlakke en verhoogde verbruik tydens die somervakansie die watervlak van die hoofopgaardam Grootkloof 3 (G3) kommerwekkend laat daal het.
"Teen die middel van Januarie het G3 tot by 60% gedaal wat vlak 2-waterbeperkings genoodsaak het. Die reënval sedert 17 Januarie het die vlak tot 75% gelig selfs al word daagliks 4 miljoen liter vir suiweringsdoeleindes onttrek."
Die dam kry water uit die Klipperivier bokant Piekniekbos in die Langeberg en die water loop met 'n ondergrondse pyp van sowat 3,5 km tot by 'n oop kanaal van sowat 800m wat die water in die G3 besorg.
Volgens hom is daar geen sluise of kleppe wat die vloei van water belemmer nie en die water vloei optimaal. "Teen die huidige vloeitempo behoort G3 binne die volgende paar dae vol te loop en hopelik sal ons die waterbeperkings binnekort kan ophef."
Hy sê dit is onwaar dat die pyp en/of kanaal weens swak onderhoud, gebreke of verstoppings nie normaalweg kan vloei nie. Die sisteem word ook sedert 17 Januarie gereeld vir enige obstruksies in die oop kanaal of oormatige opdrifsels in die siwwe gemoniteer. Dit is ook nie waar dat die sisteem weens swak bestuur of versuim nie normaal funksioneer nie. "Daar is byvoorbeeld geen sluise wat nie oopgemaak is nie, want die sisteem is permanent oop. Solank daar water vanuit die berg by die Klipperivier se oorsprong invloei sal die toevoersisteem altyd water na die dam voer."
Hy doen 'n beroep op inwoners om nie gerugte en skinderstories oor 'n sensitiewe kwessie soos water te versprei nie. "As munisipaliteit is ons terdeë bewus van die krities belangrike rol wat water in ons alledaagse lewens vervul. Ons bly daartoe verbind om te alle tye ons waterbronne en infrastruktuur optimaal te benut ten einde 'n betroubare bron van drinkwater aan al ons mense te verseker."
Lees 'n vorige berig: Swellendam ontken waterstories
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Tuinroete nuus'