ALBERTINIA NUUS - Geskiedenis is Saterdag, 20 November in die plaaslike Charismatiese en Pinksterkerke gemaak toe die eerste studente hul kursus in pastorale studies voltooi het.
Dit word deur 'n nie-winsgewende organisasie, Community Skills Development & Bible Centre aangebied.
Die stigter is doktor Jacob Prins, 'n boorling van Albertinia wat sy doktoraat in teologie behaal het en ook aan die Northwestern Christian University sy B Th (Bachelor of Theology with Bible and Church Ministry) en M in die bediening behaal het.
Die doel van die instituut is om manne en vroue toe te rus om beter geestelike diens op verskillende vlakke in die gemeenskap te verrig. Die studente wat hul sertifikate van bevoegdheid ontvang het, kan op pastorale vlak in hulle onderskeie bedieninge aangewend word.
"Dit was voorwaar 'n wonderlike dag en boonop geskiedkundig ook. Dankie aan almal wat dit Saterdag met ons meegemaak en dit vir die studente so spesiaal gemaak het.
"Hartlike dank ook aan Bishop Kenzeni wat 'n kragtige boodskap gelewer het," het Prins, wat die kursus aangebied het, gesê.
Volgens hom het Albertinianers hom terug laat verlang met hul warmte en belangstelling.
Die instituut gebruik die kurrikulum van Northwestern Christian University wat die opleidingsinstituut van Worldwide Church of Jesus Christ is met die teologiese akkreditasie deur The International Association for Christian Educational Accountability, 'n wêreldwye organisasie wat hom vir die handhawing van die hoogste Christelike opleidingstandaarde vir sy lid organisasies beywer.
Enige belangstellendes of vir meer navrae, kontak Prins (061 999 2327).
Van links is Jacobus Mackriel, Adolf Peceur, Danville Prins, dr Jacob Prins, Annie Krieger, Rainesha Krieger en Michael Nomdo tydens die plegtigheid.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'