HESSEQUA NUUS - Die munisipaliteit sal graag van alternatiewe energieverskaffers gebruik wil maak.
So het Harold Basson, direkteur tegniese dienste gereageer op 'n navraag van Suid-Kaap Forum of die munisipaliteit van sulke verskaffers gebruik sal maak in die lig van die beurtkrag wat onverwags Woensdag 16 Oktober ingestel is.
Wes-Kaap premier Alan Winde het op dieselfde dag in reaksie op die beurtkrag gesê: "Vandag se skielike beurtkrag is die laaste strooi. President Cyril Ramaphosa moet sy minister van energiesake opdrag gee om munisipaliteite toe te laat om van 1MW tot 10MW krag van onafhanklike energieproduseerders aan te koop."
Volgens Basson is hier nie tans grootmaat-diensverskaffers nie. "Die munisipaliteit het reeds 'n beleid, asook 'n tarief in plek om die installasies by privaat en besigheidspersele te akkommodeer."
Volgens hom sal die munisipaliteit groter privaat diensverskaffers verwelkom. "Op die oomblik is die lisensiëring van sulke installasies nog 'n uitdaging met Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA)."
Hy meen die alternatief om elektrisiteit van sulke verskaffers te bekom, is 'n lewensvatbare moontlikheid. "Dit kan beslis haalbaar wees."
Volgens hom raak beurtkrag die munisipaliteit se diensverskaffing 'baie negatief'. "Daar is egter nie akkurate syfers oor die omvang van die koste beskikbaar nie."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'