Gallery Update
HESSEQUA NUUS - Hessequa-streek het erg onder 'n stormwind met plek-plek gepaardgaande reën gedurende die vroeë oggendure van Woensdag, 30 Junie deurgeloop.
'n Vlak 6-waarskuwing van sterk wind is die vorige dag deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik, maar min mense het voorsien dat dit so erg sou wees.
Stilbaai en Jongensfontein
Johan Victor, Suid-Kaap Forum se korrespondent op die kusdorpe berig dat strukturele skade by verskeie plekke aangerig is, bome is ontwortel en selfs 'n kennisgewingbord is omgeruk.
Twee van Stilbaai se karwasplekke se daknette het afgewaai en van die strukture is beskadig.
Die karwasplek in Stilbaai het groot skade opgedoen met die daknette wat afgewaai en struktuurskade wat aangerig is. Foto: Johan Victor
In Reservoirstraat versper 'n groot boom die hele pad en by een van die huise naby OK Foods is die skuifhek afgeruk.
Foto's: Stormwind tref Stilbaai
Albei dorpe was vir baie lank sonder krag.
Die volle omvang van skade was teen druktyd nie bekend nie.
LEES: Stilbaai loop erg onder wind deur
Dié groot boom in Stilbaai is heeltemal ontwortel. Foto: Johan Victor
Heidelberg, Slangrivier en Witsand
Korrespondent Clive Pretorius berig dat Heidelberg en omgewing ook nie die stormwind vrygespring het nie. Kleine Pikkewyne-kleuterskool se dak het heeltemal afgewaai en groot skade is in die klaskamer aangerig.
Op Slangrivier is 'n paar huise se dakke erg beskadig, veral die informele strukture.
Op die pad na Witsand het hierdie kragpale omgewaai.
Op die Witsand-pad het ses elektrisiteitspale omgewaai en is dit die oorsaak dat die toevoer in Witsand en Slangrivier, asook Joe Slovo Park en Diepkloof op Heidelberg vir baie lank af was.
LEES: Wind rig ook op Heidelberg skade aan
Riversdal en Albertinia
Om ongeveer 02:00 het die stormsterk wind behoorlik takke en allerlei los items deur die lug laat vlieg.
Hierdie toneel in Kerkstraat was 'n algemene gesig in Riversdal. Oral in die dorp het groot takke rondgelê. Foto: Wilma Adamson
Kragonderbrekings het oral in die distrik voorgekom en hoewel die dorp se toevoer redelik vinnig deur Hessequa-munisipaliteit herstel is, was plaasbewoners nie so gelukkig nie. Bome het op sommige kraglyne geval en moes dit eers verwyder word.
Oral in Riversdal het los takke, blare en rommel rondgelê.
Ook in Albertinia het veral informele strukture sleg deurgeloop en verskeie dakke het afgewaai.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'