RIVERSDAL NUUS - Hoewel waarskuwings van stormweer vroeër die week deur onder meer die Garden Route-distriksmunisipaliteit, asook SA Weerdienste ontvang was, het dit heelwat Riversdallers effens onkant betrap.
Om ongeveer 02:00 vanoggend (Woensdag, 30 Junie) het ‘n stormsterk wind behoorlik takke en allerlei los items deur die lug laat vlieg.
Kragonderbrekings het oral in die streek voorgekom. Slegs sekere dele van Riversdal is geraak. Volgens Hessequa-munisipaliteit is hulle besig met herstelwerk, maar kon nie sê hoe lank dit sal neem nie.
Oral in Riversdal het los takke, blare en rommel rondgelê. Geen sigbare skade was aangerig nie, hoewel iemand laat weet het dat ‘n boom op hul voertuig geval het. Die adres en ligging wat die dame gegee het, kon egter nie opgespoor word nie.
• Enigiemand wat skade as gevolg van die stormwind opgedoen het, is welkom om die inligting en moontlik ‘n foto aan ons te stuur (wilma@groupeditors.co.za).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'