RIVERSDAL NUUS - Dit was nie 'n moeilike besluit om Storm se organe te skenk nie.
"Ons het al daaroor gepraat. Ek het vir hom gesê as ek iets oorkom, wil ek alles van my liggaam wat gebruik kan word, skenk.
Hy het verstaan hoe ek daaroor voel. Toe die dokter sê daar is geen breinfunksie meer nie en vra of ek orgaanskenking sal oorweeg, was dit 'n maklike besluit. Terwyl hy nog aan die masjien gekoppel was, kon hy ander mense help."
Sy wag nog vir 'n brief van die orgaanskenkingstigting (Organ Donor Foundation) wat sê watter organe geskenk is, maar die identiteit van die ontvangers word nie bekendgemaak nie. Maar sy het 'n sterk vermoede gehad dat Andries van der Merwe (23) Storm se longe ontvang het. "Ons weet nie vir seker nie, maar ons het twee en twee bymekaargesit en tot die slotsom gekom dat dit so moet wees."
Van der Merwe het aan sistiese fibrose gely en was besig om in die vloeistof in sy longe te verdrink, verduidelik sy. "Hy sou daardie Maandag begin suurstof ontvang. Volgens hom het die dokter vir hom gesê die longe pas perfek!"
Sy vermoed 'n 18-jarige seun wat sy ook verlangs ken, het een van Storm se niere gekry. "Daar gaan nog baie ander wees, want sy hart, oë, lewer en vel en wat nog alles is ook geskenk.
"Ek word hartseer as ek aan al die goeie goed dink wat hy gedoen het toe hy nog gelewe het. Nou is hy nie meer hier nie, maar hy gaan voort om goed te doen."
Volgens haar het talle ander mense wat deur hom geïnspireer is, ook as orgaanskenkers geregistreer.
"Mense soos Andries, wat baie swaargekry het, kry deur sy toedoen 'n tweede kans op die lewe. Dit moes so wees: Storm se tyd op aarde was om. Hy het hier gedoen wat hy moes doen. Die mense wat hy na sy dood help, het hom ook nodig gehad."
'n Glimlag breek deur die trane. "As ek oor hom praat, raak ek nie so hartseer nie, want dis asof hy nog hier is. Jy dink jy gaan vergaan, maar die Here gee jou die krag om aan te gaan. En hy lewe voort in almal wat sy organe kry."
Lees vorige artikels:
- Storm word onthou
- Storm het stil geword
- Huldeblyk vir matriekseun Vrydag
- Oakdale-leerder oorlede
- Min hoop vir Oakdale-leerder
- Oakdale-leerder ernstig beseer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'