Gallery Update Video
RIVERSDAL Waar enkele weke gelede luid Akkerfees gehou is, het daar Vrydag 30 Augustus 'n somber stilte oor die skoolterrein gehang waar van Storm Smorenburg afskeid geneem is.
Die matriekleerder aan die Hoër Landbouskool Oakdale se onblusbare lewenslus is voortydig uitgedoof na 'n skaatsplank-toertjie Donderdagoggend 22 Augustus skeefgeloop het.
Sy skoolmaats, onderwysers, ouers en ander belangstellendes wat vir sy troosdiens saamgekom het, het so sy dood onthou. Maar hulle het veral sy lewe gevier.
Ds. André Jordaan van NG Kerk Moedergemeente het in sy treffende boodskap uit Mattheus 8:23 getroos dat Jesus die storm stilmaak en dat hy ook die storms van waaroms en hoekoms in die harte van dié wat agterbly sal stil maak met die wete dat Hy altyd daar is. Hy het Storm in die lewe in herinnering geroep as die lewensredder wat talle mense wat in die see in die moeilikheid beland het, gered het, net soos wat die Groot Lewensredder mense se lewens red, en daarin lê lewe en hoop.
Skoolhoof André Latsky het gesê Storm is die 13de leerder in die jare wat hy hier die hoof is van wie hy moet afskeid neem. Nie almal het op die skoolterrein gesterf nie: Stian van Greunen het in dieselfde week sy stryd teen kanker in sy tuisdorp Pretoria verloor. "Hulle was almal legendes, want hulle het Oakdalers se lewens en toekoms verander."
Hy het Storm onthou as die gr. 9-leerder wat skamerig deel van die Oakdale-familie geword het, en wat in statuur en persoonlikheid gegroei het tot die vriendelike, hulpvaardige staatmaker-matriekseun met 'n besondere sin vir humor en 'n eindelose omgee vir almal met wie hy in aanraking gekom het.
Skoolmaat Mickél Stemmet, Storm se gr.11-koshuiskamermaat en vriend, het 'tannie Lisa' bedank vir die 'engelkind wat sy grootgemaak het', ''n man met 'n skewe glimlag, groot hande en voete, 'n vermoë om jou te laat lag, en 'n passie om mense te help'. "Jy is my hero, ons groet jou net tydelik. One life, live it," het hy afgesluit, terwyl menige seun probeer het om sy nat oë ongesiens af te vee.
Sy oom, Kurt Smorenburg, het vertel van Storm se liefde vir die natuur en sy legendariese eetlus: "Storm and food: seven Weetbix for breakfast. He loved jelly sweets and his mom's pasta."
En so sal Storm Smorenburg voortleef in die onthou en die stories wat nog lank oor hom vertel sal word.
Die polisie is besig met 'n geregtelike doodsondersoek na die omstandighede van die voorval.
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels:
- Storm het stil geword
- Huldeblyk vir matriekseun Vrydag
- Oakdale-leerder oorlede
- Min hoop vir Oakdale-leerder
- Oakdale-leerder ernstig beseer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'