STILBAAI NUUS - Ná drie jaar as kantoor-bestuurder van Stilbaai-toerisme het Annerise Wolmarans besluit dis tyd om aan te beweeg. Sy het op 1 Augustus as gasvryheidsbestuurder by Oudewerfskloof-olyfplaas begin werk.
Annerise, oorspronklik van Pretoria, sê jy dink jy is lief vir Stilbaai tot jy daar in die toerismekantoor sit. Dan eers besef jy hoe lief jy werklik vir Stilbaai is.
"Hier werk jy nie vir iemand nie, maar vir die gemeenskap."
In haar tyd het die toerismeburo baie vernuwe, nuwe tegnologie is ingebring en veral hul sosiale media-aanslag het baie verbeter. Wat die taak ook baie makliker maak, is die uitstekende komitee wat dié kantoor van krag tot krag vat. Annerise se kennis en ervaring is nie verlore nie, omdat sy nog steeds op die bestuur dien.
Die nuwe kantoorbestuurder, Mariaan Harris is nie 'n groentjie in die bedryf nie. Sy was haar lewe lank in die wyn- en gasvryheid betrokke en het nou met toerismekantore saamgewerk.
Sy wil voortbou op wat Annerise agterlaat, maar wil 'n paar nuwe projekte aanpak vir die toerismekantoor, maar ook vir die gemeenskap. Mariaan wil hê dat die dorp die toerismeburo beter leer ken.
Haar doel is om meer toeriste te lok en hulle dan langer te laat bly. Sy sê dis egter belangrik om te weet wat Stilbaai uniek maak en dit dan uit te bou. Sy wil ook buitelandse toergroepe lok om Stilbaai te besoek.
"Hiervoor gaan die samewerking van besighede in Stilbaai belangrik wees omdat hulle sal moet help om toerbusse te hanteer en hulle welkom te laat voel."
Mariaan sê sy is baie opgewonde oor wat Stilbaai bied en sy is mal oor 'n plek met 'n storie. Sy kan nie wag om Stilbaai se storie te vertel nie. Sy sê dat die toerismekantoor die gesig van die dorp is. "Hoe jy ontvang word gaan vir jou die gevoel gee van die dorp en diplomasie en gasvryheid kos niks."
Mariaan se passie vir mense en haar entoesiasme vir die taak wat voorlê, maak haar beslis 'n aanwins vir Stilbaai-toerisme, asook vir die breë gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'