STILBAAI NUUS - Meeste mense ken dr. Deon Begemann as die voorsitter van Stilbaai Bewaringstrust en die man aan die spits van die projek om indringerplante in die dorp hok te slaan.
Hy het egter heelwat meer fasette as net 'n kennis van plante.
Dié boorling van Pretoria het al 'n draai deur onder meer landbou, filosofie en entomologie gemaak.
Sy akademiese loopbaan het in die sewentigs by die Universiteit van Pretoria (UP) begin en met 'n B.Sc-Landbougraad, waarna honneurs aan die Universiteit van die Vrystaat met hoofrigting Insektekunde gevolg het. Sy fokus was plaagbestryding en hy was vir 10 jaar aan die navorsingsinstituut vir veeartsenykunde by Onderstepoort verbonde. 'n Loopbaan van 38 jaar as entomoloog in die sitrusbedryf het gevolg.
Begemann se belangstelling in filosofie was ook nie sommer so nie en hy kan sowel 'n M.Sc- as 'n doktorsgraad in dié rigting vanaf UP agter sy naam skryf.
Sy verbintenis met Stilbaai het 27 jaar gelede begin toe hy en sy vrou, Ronelle 'n vakansiehuis aangeskaf het. Die afgelope ses jaar is hulle permanente inwoners van die dorp.
Ronelle was 'n fisioterapeut en sy loop gereeld ou pasiënte raak, sê hy. Maar hulle reken hulle sal nie die rustige lewe, die nagstilte en die see ooit weer vir 'n groot stad verruil nie.
Aan staaltjies ontbreek dit nie en Begemann onthou toe hy in die sewentigs as navorser op muggies vir die destydse departement landbou-tegniese dienste in die lope van die Vaal- en Oranjerivier gewerk het:
"Ons was altyd twee op die ekskursies. Die interaksies met die mense van die Noord-Weste was soms komieklik, soos die dag in Warrenton toe ek by oom Frans my hare laat sny het en op een van die oudste silwer barbierstoele in die land moes gaan sit. Oorlede Joggie Minnaar (boorling van Stilbaai), toe nog jonk en pas uit skool, was my assistent. Hy en twee ander kliënte het hul beurt afgewag, want die langhaarmode van die sewentigs was lastig tydens 'n kamp. Toe oom Frans op die maat van boeremusiek my nekhare afrond, sny hy 'n moesie morsaf. Hy vra om verskoning, vee die bloed af en smeer iets om die erge bloeding te stop aan. Toe hy roep next! was dit doodstil in die winkel. Die musiek was klaar en die bankie het eensaam gestaan, want al die kliënte het gevlug. Joggie was weer op toer met die lang hare soos ons hom as jong man geken het."
Begemann is steeds op 'n muggiespoor om die broeiplekke van die Stilbaai-muggie op te spoor en te beskryf.
Hy reken die grootste les wat hy ooit in sy lewe geleer het, was om mense se andersheid te erken: "As jy nie saamstem met iemand se optrede nie moet jy hard probeer om te verstaan wat hom tot die punt van verskil gebring het."
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'