MELKHOUTFONTEIN NUUS - Stilbaai-polisie en die Gemeenskapspolisiëringsforum was die gashere vir 'n gesellige viering van Vrouedag op Sondag 11 Augustus in die Melkhoutfontein-gemeenskapsaal.
Na 'n verwelkoming deur kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder, het die sosiale misdaadkoördineerder sers. Christiana Lewaks verduidelik dat die dag gevier word om Melkhoutfontein se vroue te bemagtig en die sirkel van gesinsgeweld te breek.
Geweld in die huis eindig soms by moord en kinders wat daardeur geraak word se drome word verpletter. Volgens Lewaks bewerkstellig sy ontmoetings tussen slagoffers en oortreders sodat hulle mekaar om verskoning kan vra en respek aan mekaar kan betoon.
Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles het daarna aan die woord gekom en vroue aangemoedig om hul plekke as moeders en lede van die gemeenskap vol te staan. Die gassprekers Shireen Hendricks, asook sersante Pienaar en Pieterse van die Da Gamaskop-gebiedskantoor, het ook in hul toesprake die aanwesiges aangemoedig om bo hul omstandighede uit te styg.
Kyk 'n video hieronder
Die polisie bedank alle besighede wat bygedra het om van die projek 'n sukses te maak.
’n Paar van die dames wat die Vrouedagvieringe op Melkhoutfontein bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'