STILBAAI NUUS - 'n Brand-stofdief wat diesel uit 'n grondverskuiwings-maatskappy se masjinerie gesteel het, is Donderdag 20 Junie vasgetrek.
Volgens kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder het dit fyn beplanning gekos.
Konst. Christaan Zwiegelaar het opdrag ontvang om 'n bedekte operasie uit te voer. Hiervoor moes hy skriftelik by die departement van openbare vervolging (DOV) aansoek doen, wat dit na deeglike oorweging goedgekeur het.
Zwiegelaar het 'n polisie-agent getaak om 20 liter brandstof te bekom, wat as lokaas vir die vermeende dief gedien het. Dit het gelei tot die inhegtenisneming van die verdagte, wat op 21 Junie in die landdroshof verskyn het.
"Die maatskappy, wat finansiële verliese weens die diefstal gely het, het die polisie bedank vir hul flink en suksesvolle optrede," het Van Tonder gesê.
Op Dinsdag 24 Junie het die polisie, in samewerking met die verkeers- en wetstoepassingsdeparte-mente 'n suksesvolle padblokkade gehou waartydens 'n besending dwelms gekonfiskeer is.
Konst. Johannes Pietersen het 'n voertuig wat op pad na dié kusdorp was, deursoek en op 30 Mandrax-tablette afgekom. Die verdagte is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof op 'n aanklag van handel in dwelms verskyn.
"Ons het 'n geen-genade-benadering tot dwelmhandel," het Van Tonder gesê.
Die besending Mandrax-tablette is gekonfiskeer.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'