STILBAAI NUUS - Stilbaai polisie het die gesindheid van Mandeladag voortgesit in 'n langtermynprojek om leerders te help om in hul basiese behoeftes te voorsien.
In samewerking met die Gemeenskapspolisiëringsforum en die plaaslike Spar is 'n gemerkte houer vir donasies van basiese toiletware voor in die Spar geplaas.
Aan die begin van elke maand sal die ingesamelde items tussen leerders in al die Stilbaai skole verdeel word. Dit sluit die onlangs gestigte landelike leergroep 'Kleinbegin' in.
Tydens polisiebesoeke aan verskeie huise van leerders wat nie opdaag vir skool nie, is gevind dat die mees basiese middels dikwels ontbreek. Volgens die Sosiale Misdaadkoördineerder, sers. Christiana Lewaks, kan 'n helpende hand die aantal 'drop outs' heelwat verminder. Wanneer leerders in die klaskamer is kan hulle nie 'n teiken vir misdaad word nie.
Vir enige navrae oor die projek kan sers. Lewaks by 028 754 6100 of 6106 gekontak word. Inwoners se ondersteuning sal hoog op prys gestel word.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'