STILBAAI NUUS - Almal op Stilbaai is dit eens dat NSRI Stasie 31 ’n onontbeerlike diens aan die gemeenskap en omgewing lewer.
Die puik opgeleide vrywilligers is dag en nag gereed om hulp in noodsituasies te verleen, hetsy dit op see of land is.
Maar dis juis hierdie dubbele rol wat die NSRI se primêre taak van seeredding in gevaar begin stel, omdat dit onhanteerbaar raak in terme van tyd en mannekrag.
Dit het die bevelvoerder van Stilbaai NSRI, Arrie Combrinck, genoop om ’n beroep op inwoners te doen om na vore te kom vir opleiding in eerstehulp.
Die oogmerk is om ’n parallelle organisasie te skep wat op die lewer van vrywillige eerstehulpdienste fokus, ter ondersteuning van die amptelike nooddiensteverskaffers en ander betrokkenes.
Die NSRI sal met opleiding en toerusting help om die organisasie op die been te bring.
Belangstellendes kan Combrinck by 083 454 6945 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'