HESSEQUA NUUS - Die heengaan van Harold Basson, direkteur: tegniese dienste by die plaaslike munisipaliteit, wat die afgelope twee jaar diep spore in Hessequa getrap het, laat 'n onbeskryflike leemte.
Die 63-jarige Basson is Donderdagnag na 'n kort siekbed in Mediclinic George oorlede.
"Hy is Dinsdagaand in die hospitaal opgeneem weens 'n vaskulêre probleem in sy linkerbeen," het Lidia, sy vrou van 37 jaar aan Suid-Kaap Forum gesê. "Hy het drie operasies ondergaan om sy been te red." Volgens haar het hy 'n jaar gelede dieselfde probleem ondervind.
Ten spyte daarvan was Basson fiks en gesond. Hy het op 19 Oktober aan die 5 km Fynbos-hol ten bate van die Tuin-op-die-Brak op Stilbaai deelgeneem en was die eerste man om klaar te maak.
"Hy was baie sportief en het kompeterend gehardloop, fietsgery en geroei," het Lidia gesê. "Hy was baie lief vir die natuur en het graag gestap, gekamp en met sy Landy's getoer."
In September vanjaar het hy vir sy broer Albertus, wat in Windhoek woon en wat met leukemie gediagnoseer is, beenmurg geskenk. "Hy was 'n 100% passing en was so opgewonde daaroor. Dit was 'n groot sukses en Albertus is 18 dae later uit die hospitaal ontslaan."
Die egpaar het einde 2017 van George na Stilbaai verhuis. "Ons het 35 goeie jare in George gehad en 'n fantastiese vriendekring opgebou. Harold was 31 jaar by George-munisipaliteit. Die laaste twee jaar op Stilbaai was vir ons albei verskriklik lekker. Hy het lekker gewerk, is met respek behandel en gewaardeer. Hy was mal oor sy jong spannetjie en het so lekker saam met almal gewerk. Hy het nog 'n jaar en 'n half gehad om te gaan voor hy sou aftree."
Hy word deur sy ma, Esther en ander broers, Kobus en Johan, almal van Stellenbosch oorleef.
In 'n mediaverklaring aan die koerant het Hessequa-munisipaliteit gesê dat met leedwese en skok van Basson se afsterwe verneem is. "Die bydrae wat hy in die munisipaliteit en gemeenskap gelewer het, word baie hoog geag. Sy kennis en ervaring in die ingenieursbedryf is onlangs beloon toe hy deur SAICE as Fellow of The South African Institution of Civil Engineers erken is.
"Die uitvoerende burgemeester, speaker en raad, munisipale bestuurder, direkteure en kollegas betuig medelye en innige simpatie aan sy eggenoot Lidia en familie. Sy nagedagtenis word ook in die besonder deur die tegniese dienste personeel geëer," lui die verklaring.
Bymekaarkomste om sy lewe te vier word Vrydag 8 November in die NG Bergsig-gemeente, h/v 4de en Meyerstrate om 15:00 in George gehou, asook Saterdag 9 November om 10:00 in die NG Kerk, Kerkstraat 14 in Stilbaai-Wes.
Lees verwante artikels:
Basson se dood ruk Tuinroete-gemeenskap
Munisipaliteit geskok oor Basson se skielike afsterwe
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'