RIVERSDAL NUUS - Hendrik Saayman het op Dinsdag, 20 April sy 90ste geboortedag herdenk.
Oor die afgelope jare het Hendrik bekend geword vir sy uitsonderlike groot patats, pynappels en ander groente en vrugte wat gereeld in Suid-Kaap Forum verskyn het. In 'n stadium het hy 30 soorte vrugte op sy grond gehad.
Hendrik is in 1931 in Stilbaai tydens die depressiejare gebore. "Toe ek sewe is, het die oorlog uitgebreek. Ek het op 16 jaar eers my eerste paar skoene gekry toe ek werk in die Kaap gaan soek het," vertel hy.
Al was hy baie maer en skraal, het hulle besluit om hom 'n kans te gee en was hy 38 jaar by die Suid-Afrikaanse Spoorweë werksaam. Hy het 30 jaar ongelukvrye diens gehad, waarvoor hy medaljes gekry het.
"In dié tyd het ek 'n afstand op treine afgelê wat meer as 100 keer om die wêreld is," vertel hy trots.
Op 28 November verlede jaar het hy egter besluit om in Ou Meule-tehuis op Riversdal te gaan bly na hy sy plaas verkoop het.
Sy vrou Miemie wat hy in Fraserburg ontmoet het en met wie hy op 15 April 1952 getroud is, is op 9 Februarie vanjaar oorlede. Hulle sou op twee maande na 69 jaar getroud wees.
Hulle het 'n seun en drie dogters, Retha, Dianna, Kobus en Christa, asook 11 kleinkinders en vyf agterkleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'