HESSEQUA NUUS - Honderde gevalle van vermiste tieners word jaarliks by die polisie aangemeld.
Die verdwynings kan onder meer aan sosiale media toegeskryf word en dit is belangrik dat ouers daaroor ingelig is.
Tieners wat uit gebroke huwelike kom, tuis die slagoffer van seksuele misbruik of mishandeling is of verwerping beleef, is baie kwesbaar. Hulle ervaar dalk 'n gebrek aan liefde en ondersteuning en word maklik deur ouer persone mislei. Seksuele misdadigers soek daagliks op sosiale netwerke na jeugdiges wat tekens van kwesbaarheid toon.
Wanneer 'n vreemdeling aan so 'n tiener aandag skenk, reageer hulle sterk daarop. Omdat liefde in hul lewens afwesig is, verwar hulle dié aandag met liefde. Hulle stem in om die persoon te ontmoet en kan selfs omgepraat word om van die huis af weg te loop.
Wenke om jou tiener te beskerm
Vind uit of jou tiener 'n Facebook-profiel het en indien wel, dring daarop aan om dit saam met hom te administreer, of om ten minste 'n Facebook-vriend te wees.
Let op met wie jou kind bevriend is en hou die inhoud dop. Dit is belangrik om 'n oop kommunikasiekanaal met jou tiener te hê. As jy hom bewus maak van die gevare, sal dit 'n vertrouensverhouding tussen julle bou. Probeer om nie te oorreageer wanneer hy jou in sy vertroue neem nie.
Beperk toegang tot data sodat hy nie laatnag steeds toegang tot sosiale medianetwerke het nie. Dit vernietig gesinne omdat hopeloos te veel tyd op selfone eerder as saam met die gesin deurgebring word. Dit beïnvloed ook tieners se akademiese en sportprestasies.
Sosiale media is soos 'n dwelm, want dis tydrowend en verslawend.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'